Kanse lewendig vir Paarl
2008-02-21
PAARL se eerste krieketspan het die naweek sy kanse om in die halfeindstryd van die 20/20 kriekettoernooi te speel, versterk deur albei sy wedstryde op Parys te wen. Saterdag het hulle teen Malmesbury te staan gekom en Sondag teen Vredenburg/Saldanha. Paarl II het egter slae gekry teen die besoekers van Saldanha nadat hy Saterdag met ’n goeie spanpoging ’n oorwinning oor Malmesbury behaal het. Paarl I (205/4) het Malmesbury I (120/9) geklop met 85 lopies. Alfredo Adams (62, 4x4 en 4x6), Lynal Jansen (89*, 5x4 en 7x6) en Bobby Nicholson (32, 2x4 en 2x6) het met goeie kolfwerk plesier aan die toeskouers verskaf. Die besoekers se boulers het geen antwoord op die kolfwerk van Paarl gehad nie, en slegs Marius Appollis (2/30) het goed met die bal vertoon. Vir die besoekers het Marius Appollis (20, 4x4), Craig Meyer (27, 4x4) en Lloyd Gray (22, 4x2) moedig probeer teen die akkurate boulwerk van Clint Philander (2/15), Alfredo Adams (3/34) en Carlo Crotz (3/6). Paarl I (172/6) het Sondag vir Vredenburg/ Saldanha I (140/9) met 32 lopies geklop. Alfredo Adams (56, 4x4 en 3x6) en Lynal Jansen (41, 4x4 en 2x6) het weereens die skare vermaak met hul aanvallende kolfwerk. Hulle is ook bygestaan deur Kurt Martin (29, 4x3 en 2x6) en Ultalyn Ernstzen (24, 2x4 en 1x6). Vir die besoekers het T Kannemeyer (2/22) en E Louw (2/12) met die bal presteer. Vredenburg/Saldanha se Warren Wyngaard (41, 6x4 en 1x6), Quinton Kannemeyer (21, 2x6) en T Kannemeyer (20, 1x4 en 1x6) het die lopies gejaag. Lynal Jansen (5/13) het met sy draaiballe egter ’n stokkie in die wiel gesteek van hul poging. Die res van die kolwers het geen weerstand gebied teen die res van die tuisspan se boulers nie. Saterdag het Paarl II (98/8) vir Malmesbury (95/10) met 2 paaltjies geklop. Sondag het hulle die knie gebuig teen Vredenburg/Saldanha met 7 lopies. Saterdag sit Paarl hul aanslag op die 45 boulbeurt-kompetisie voort wanneer hulle teen Wellington kragte meet in die voorlaaste ronde van die kompetisie voordat die volgende ronde op 8 Maart afskop. Die wedstryd word op die Parysvelde gespeel terwyl die tweede spanne op die Pen Basson-velde ontmoet. Paarl III speel weg teen Spes Bona II van Stellenbosch terwyl Paarl IV teen Stellenbosch en Distrikte op Parys kragte meet.
More
News
|