Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Unieke landelike ontwikkelingsprojek van R1 miljard

Unieke landelike ontwikkelingsprojek van R1 miljard
 
2008-02-21


''n NUWE woongebied van sowat 200 huise word beoog suid van De Zoete Inval in Suider-Paarl.

Dit vorm deel van die Levendal landelike ontwikkelingsprojek met ’n beleggingswaarde van meer as R1 miljard wat aan die suidekant van die Paarl langs die R45 na Franschhoek beplan word.

Die hersonering van die betrokke eiendomme vir ontwikkeling word tans deur Drakenstein Munisipaliteit geadverteer vir besware.

’n Belangrike element van die projek is die maatskaplike opheffing van die plaaswerkers in die gebied deur bystand met behuising en die ontwikkeling van ’n eie sekuriteitswoongebied by Adamsvale, suid van die treinspoor by De Zoete Inval.

Die projek word as een van die eerste in sy soort in die land beskou met groot ekonomiese, maatskaplike en omgewingsvoordele vir die gemeenskappe van die gebied.

Dit sal aangevul word met verskeie sub-projekte, soos ’n handvlyt-sentrum, tuisnywerhede en tuindienste vir ekonomiese ontwikkeling om werkgeleenthede te help skep. ’n Laerskool word ook vir die gebied beplan.

Benewens die sosio-ekonomiese ontwikkelingsaspekte van die projek, sal ook voorsiening gemaak word vir luukse wooneenhede langs die Bergrivier, asook vir meer bekostigbare aangrensende eenhede.

Die wooneenhede sal aangevul word met allerlei kommersiële bedrywighede, soos gastehuise, en dienste, soos kwekerye, wat sal bydrae tot werkskepping vir inwoners van die gebied.

In totaal sal daar 979 residensiële wooneenhede wees wat sal wissel van groepsbehuising en woonstelle tot enkelresidensiële wooneenhede.

’n Voëlreservaat met beperkte publieke toegang word vir die Bergrivier-eiland beplan, terwyl ’n woonwapark met 40 staanplekke aan die rivier in die vooruitsig gestel word.

Altesame 307 hektaar grond sal by die projek betrokke wees wat uit 22 eiendomme van 18 verskillende eienaars van grond insluit. Dit sluit ook die Bergrivier-ontspanningsoord in.

Die ontspanningsoord sal egter nog ten volle funksioneer tot tyd en wyl die planne vir die projek goedgekeur en met konstruksie begin word.

Alle aanduidings is dat die projek ’n positiewe invloed op die ekonomiese waarde van die aanliggende eiendom sal hê. Dit is as gevolg van die tipe en gehalte van die ontwikkeling wat beplan word.

’n Aansoek vir die hersonering van die grond en wat deur ’n deurtastende omgewingsimpakstudie voorafgegaan is, is reeds einde verlede jaar by die betrokke owerhede ingedien.

Dit volg nadat daar sowat vyf jaar gelede met ondersoeke na só ’n projek begin en verskeie vergaderings met belanghebbendes in die Paarl gehou is.

Die projek word deur Levendal Developments, ’n ontwikkelingsmaatskappy wat bestaan uit Power Developments, Lord Trust en SAMFU (’n swart bemagtigingsmaatskappy), voorgestel om as stimulus vir die ontwikkeling van die Suider-Paarl-gebied te dien.

Volgens die ontwikkelaars word daar tans vyf verskillende ontwikkelingsalternatiewe vir die gebied oorweeg.

Die alternatiewe sal na aanleiding van die omgewingsimpakstudie-verslag deur die Departement van Omgewingsake oorweeg word, wat dan ’n besluit oor die aansoek sal neem.

Johan du Toit, projekbestuurder van Levendal, het gesê die vernaamste rede vir die projek is dat die betrokke gebied besig is om ernstig te verval.

Dit word gekenmerk deur werkloosheid, ’n agteruitgang in landboubedrywighede as gevolg van die vermindering in ekonomiese skaalvoordele en ’n steengroef wat aan die einde van sy ontginningsleeftyd gekom het.

Deur bemagtiging wil daar nou gepoog word om die lewensgehalte van al die mense in die gebied te verbeter en werksgeleenthede te help skep. Die oorkoepelende gedagte is om welvaart te skep en daarin te deel.

Die ontwikkeling beoog die opheffing van die plaaslike gemeenskap, veral om ’n gemeenskapslewe vir die inwoners in die gebied te skep asook die aktivering van die landbou-potensiaal van die gebied.

Sowat 80% van die grond sal vir landbou aangewend word, terwyl ontwikkeling hoofsaaklik sal plaasvind op reeds versteurde areas of landbougronde met ’n lae landboupotensiaal.

•Aandag sal geskenk word aan die rehabilitasie van die omgewing, byvoorbeeld die Bergrivier-oewer wat die oostelike grens van die ontwikkeling vorm.

Jan van Rensburg van die argitek en beplanningsfirma TV3 op Stellenbosch het gesê terwyl daar nog vir goedkeuring deur verskeie owerheidsinstellings gewag word, het Erfenis Wes-Kaap reeds positief op die aansoek gereageer.

“Levendal is in wese ’n rehabiliterings- en ordeningsprojek van ’n gebied wat afgeleef geraak het.

“Met al die beplanning en navorsing wat in die projek gegaan het, kan dit as bloudruk vir soortgelyke ontwikkelings in die land dien.”




More News
  • Hotel to convert to retirement centre
  • Nuwe daghospitaal vir Noorder-Paarl
  • Progress in Klapmuts
  • Green office block planned for Paarl Mall
  • Skole speel groot rol in Drakenstein se eiendomsmark
  • Woonstelmark wil-wil wakker word
  • Objections to Waterfront development
  • Farm up for auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za