Vrae gestel oor oud-amptenaar
2005-06-23
’n VOORMALIGE amptenaar van die Drakenstein Munisipaliteit kan moontlik vervolg word vir beweerde bedrog van meer as R50 000.
Ian Kenned, tot onlangs nog adjunk-tesourier (uitgawes), het na bewering die geld aan homself uitbetaal vir oortydwerk.
Personeel in sy posisie is nie geregtig op oortydbetaling nie. Die uitvoerende burgemeester, Herman Bailey, sê die beweerde bedrog het op die lappe gekom met Kenned se bedanking by Drakenstein.
Hy is nou hoof finansiële beampte van die Stellenbosse munisipaliteit. Bailey het bevestig dat hy Drakenstein se interne ouditeure, KPMG, opdrag gegee het om die bewerings te ondersoek.
Daar word nou gewag vir ’n verslag, waarna die burgemeesterskomitee sal besluit oor moontlike optrede teen Kenned.
Bailey het die publiek weer eens die versekering gegee dat hy bewerings van korrupsie en diefstal nie ligtelik opneem nie.
“Toe ek diens aanvaar het, het ek die onderneming gegee dat ek staan vir skoon administrasie,” het hy gesê.
Dit is nie die eerste keer dat Kenned se naam in gedrang is met geldbedrog nie.
Sowat vyf jaar gelede is 'n bedrag van meer as R4000 op dieselfde wyse aan hom oorbetaal vir oortyd.
Dit is as ’n administratiewe fout beskryf en Kenned het die geld onmiddellik weer terugbetaal.
* A former Drakenstein municipal official, now working at Stellenbosch Municipality, may be prosecuted for fraud.
More
News
|