Hugenote kraai koning
2008-02-21
DIE Hugenote Hoërskool op Wellington het hul puik prestasie van verlede jaar herhaal deur weer koning te kraai tydens Donderdag se atletiekstryd teen drie Kaapse skole. Dié hoërskole-atletiekbyeenkoms was weereens gekenmerk deur harde kompetisie teen Brackenfell, De Kuilen en Monumentpark op die Bellville-stadion. Verskeie puik individuele en spanprestasies het hierdie oorwinning gekenmerk. Hugenote het, benewens die algehele oorwinning, ook die afdelings vir seuns en dogters o.14 en o.15, sowel as dié vir o.17-seuns en o.19-seuns gewen. Verskeie leerders van Hugenote het ook nuwe rekords agter hulle naam geskryf. Ciani Loubser het ’n nuwe driesprongrekord vir dogters o.15 opgestel en die rekord vir die 300m hekkies in dieselfde ouderdomsgroep geëwenaar. Rikus van Zyl het die rekord in die hekkies vir seuns o.15 verbeter. Andries Langford spog met rekords in gewigstoot vir seuns o.19. Die o.15 seuns het die aflos in ’n rekordtyd gewen. Vier van Hugenote se atlete is aangewys as die beste in hulle onderskeie ouderdomsgroepe. Hulle is Elana Moolman (dogters o.19), Ciani Loubser (dogters o.15), JP le Roux (seuns o.15) en Robyn le Cordeur (seuns o.14).
More
News
|