‘n MENS kan verstaan hoekom die skrywers van die briewe in die vorige uitgawe so gekant is teen protesaksies en betogings.
Dit is immers as gevolg van protesaksies en betogings dat almal dieselfde toilette en ander publieke geriewe mag gebruik.
Hier verwys ek na die afkraking van mnr Mervin Julies (skoolhoof) deur sekere lede van die gemeenskap. Daar word gerieflik vergeet wat die rede was vir die betogings en net gekonsentreer op die draer van die plakkate.
Skole soos Gimnasium is bereid om saam met ons skole deel te neem op die atletiekbaan, maar as dit kom by rugby is ons nie goed genoeg nie.
As dit nie diskriminasie is nie, wil ek my naam nie hê.
Mervin Julies is een van die vele ouers en onderwysers wat hierdie tipe diskriminasie nie verder kan duld nie.
As skoolhoof en gemeenskapleier het hy gevoel dat dit nie ’n kwessie is waaroor jy saans in die bed by jou vrou kla nie, maar uitkom en opstaan vir jou kinders wat ook deel is van die land se toekoms, met ’n agterstand as gevolg van diskriminasie.
Ek wil afsluit om te sê as dit nie was vir mense soos Mervin Julies wat bereid is om op te staan vir geregtigheid en sy ontevredenheid wys nie, sou ons nooit hierdie land kon red uit die kloue van die apartheidmonster nie.
Ek is net jammer dat primêre skole in betrokkenheid gebring is, maar wil ook net sê “buig die diskriminasieboompie terwyl dit nog jonk is”. Mervin, bly sterk, jy het baie mense agter jou.
Ook ’n bekommerde ouer,
Martin van Zitters