EK het Woensdag 6 Februarie iets waargeneem wat my laat regop sit en wonder of ouers weet waarvoor hulle hulle inlaat om hulle kinders na bestuurskole te stuur.
’n Mens sal dink bestuurskole moet ’n voorbeeld stel en leerlinge leer bestuur en die verkeersreëls gehoorsaam.
Ek was geskok om ’n dame te sien bestuur met ’n telefoon in die hand terwyl sy bestuur op ’n besige pad. Sy het met ’n donkerblou Daihatsu motor, registrasie no CJ 27931, gery. Die naam van die bestuurskool was groot op die motor geskryf: Louis Bestuurskool. Hierdie voorval het plaasgevind om 07:30 in Drommedarisstraat, Paarl.
Volgens my moes dit ’n leermeester van die bestuurskool wees, want indien dit die leerling was, sou die leermeester sekerlik die leerling tereg gewys het.
Dit is beslis gevaarlik en teen die wet om op ’n openbare pad te bestuur met ’n telefoon in die hand. Mense wat self nie eens die verkeersreëls kan gehoorsaam nie, kan mos onmoontlik ander mense afrig.
Die dame wat die voertuig bestuur het, het selfs die vermetelheid gehad om vir my te wuif toe ek later regs afdraai.
Dit wil vir my voorkom asof sy nie eers besef dat sy ’n oortreding begaan het nie. Ek hoop dat verkeersbeamptes sulke gedrag sal vasvat.
Marika
Christa van Louis Bestuurskool antwoord: Aan die haastige dame in die silwer BMW, Worcester-registrasie, wil ek net dankie sê vir die opbouende kritiek. Ek wil egter net vir u sê ek het nie vir u gewuif nie, ek het net dankie gesê vir u gebaretaal en jammer vir ’n menslike fout.