ESKOM se aankondiging dat sy kragprys met 14,5% aan munisipaliteite gaan verhoog laat ’n groot gaping tussen die binne- en die buitesenter.
Die publiek is nou ’n verhoging in die omgewing van daardie koers te wagte, maar moet bedag wees op die woekerwins wat gretige amptenare van munisipaliteite deur die gaping kan laat glip.
Dit werk so: Munisipaliteite koop krag van Eskom en plaas dan ’n groot “mark-up” daarop wat as hoofbron van inkomste dien, en ook ander dienste en tariewe soos eiendomsbelasting subsideer.
In beginsel het ek geen probleem daarmee nie, solank as wat die krag bekostigbaar en die “mark-up” binne perke is.
Indien die aankoopprys dus opgaan met 14,5%, en die “mark up” 100% is, kan die munisipaliteit nie sy verkoopprys met 14,5% opstoot nie. Dis onregverdig. Hoekom sê ek so?
Indien ’n munisipaliteit R100m se krag tans van Eskom aankoop en dit teen R190m verkoop, is die begrote “wins” dus R90m. Na die 14,5% verhoging is die aankoopprys dus R114.5m. Die wins daal dus met R14.5m en dit moet by die begrote inkomste getel word om die prysverhoging op verkoopprys te bereken, dus 190+14.5= R204,5m, wat weer die begroting sal laat klop.
Die % verhoging in krag wat die eindverbruiker dus te wagte kan wees, word bereken as 204.5 gedeel deur 190 wat ’n 7,6% verhoging is, en nie naastenby 14,5% nie.
Daar behoort ook geen verhoging op vaste tariewe te wees nie, slegs 7,6% op verbruik soos in hierdie voorbeeld.
Die % verhoging wat die verbruiker behoort te betaal, sal in vergelyking met bogenoemde voorbeeld, styg namate die “mark-up” van sy munisipaliteit laer is en omgekeerd.
(Indien sy munisipaliteit krag teen kosprys verkoop, kan die eindverbruiker verwag om die volle 14,5% meer te betaal.)
Munisipaliteite en hul rekenpligtige beamptes word onder die wet verplig om die begroting te laat klop en die nodige regstellings betyds te maak, nie om woekerwins uit ’n reeds gehamerde publiek te wring nie. Die publiek, sakemanne en raadslede moet oop oë wees.
Deetlefs du Toit (DA raadslid