Inbreek betaal verseker nie
2005-06-23
Malané Bosman
’n PASGETROUDE Paarliet is van regsverydeling aangekla nadat hy na bewering inbrekers gehuur het om sy huis leeg te dra.
Was dit nie vir ’n onklaar motor en wakker polisiemanne in Noorder-Paarl nie, het die beweerde planne om versekeringsgeld te eis, dalk geslaag.
Insp André Roziers en konst Phil Swanepoel was verlede Vrydagaand om 23:00 op patrollie toe hulle ’n volgelaaide Fiat Uno opgemerk het wat deur vier mans in Hoofstraat, Noorder-Paarl, gestoot word.
“Ek het dadelik geweet hier’s fout, en stilgehou.”
Drie van die mans het gevlug, terwyl insp Roziers die bestuurder aangehou het.
Sy kollega het twee verdagtes ingejaag en insp Jacques Lume van die Paarlse honde-eenheid het die vierde medepligtige vasgetrek.
Daar is vasgestel dat daar dié aand by die woning van Pierre Marais van Michaelstraat, Noorder-Paarl ingebreek is.
’n Ruit is uitgehaal voordat elektroniese toerusting, gereedskap, drank en klerasie ter waarde van R40 000 weggedra is.
Mario Plaatjies (29), sy broer Michael (23) en hul 15-jarige broer, van Springbokstraat in Chicago, is saam met die bestuurder van die rooi Uno, Leslie Cloete (26) van Table View, van inbraak aangekla.
Hulle het na bewering kennis gehad dat die Marais’s nie sou tuis wees nie, en het ook presies geweet wat gesteel moes word.
Die waardevolste goedere is eers uit die huis gedra. Omdat die motor nie groot genoeg was vir die diewe en die buit nie, is ’n eerste vrag, meestal musiektoerusting, na Paarl-Oos geneem. Dit was met die wegry van die tweede vrag, drank en televisiestelle, dat insp Roziers se intuïsie die diewe gekelder het.
Met inligting wat daardie nag tydens ondervraging bekom is, is kapteins Charles Daniels en Aubrey Marais na die Plaatjies woning in Paarl-Oos.
Die gesteelde goedere is intussen verskuif en is kort daarna in Fairyland opgespoor.
Die inbrekers was nie van plan om alleen die skuld te dra nie, en het verklarings afgelê wat vinger gewys het na die “slagoffer”, wat na bewering hulle dienste gebruik het om sy eiendom te steel.
Marais is Vrydag van regsverydeling aangekla en in die polisieselle aangehou totdat hy die aand op borgtog van R500 vrygelaat is.
Die staat beweer dat hy mense gehuur het om sy woning vir versekeringseise te besteel.
Cloete en Mario Plaatjies is elk op borg van R1000 vrygelaat, terwyl Marius Plaatjies in aanhouding bly terwyl hy vir ander huisbraaksake verhoorafwagtend is.
Die tienerbroer is gewaarsku om ook weer hierdie week in die hof te wees.
* A newly married man has been charged with obstructing justice after he allegedly hired burglars to clean out his house in Paarl North.
More
News
|