DIE verhoging in kragtariewe en gereelde kragonderbrekings gaan beslis die verbruiker se sak ruk en Drakenstein se ekonomiese ontwikkeling ernstig benadeel tensy daar nou daadwerklike stappe geneem word.
Volgens Max van der Wath, Kragkrisis-projekleier van die Wellingtonse Sakekamer, gaan die kragkrisis verreikende negatiewe gevolge hê vir verbruikers van elektrisiteit in die Drakenstein munisipale area.
Die kragtekorte sal nie alleen net plaaslike ekonomiese ontwikkeling knou nie maar sal ook plaaslike regering se program van maatskaplike opheffing op die lang duur ernstig benadeel.
Kragverbruikers wat alternatiewe soek vir die besparing van krag kan gerus die Slimkrag Expo (Smartpower Expo) bywoon op 5 en 6 Maart.
Die Expo gaan by die Provençe Konferensiesentrum in Wellington gehou word met die doel om verskaffers van alternatiewe kragbronne (sonkrag, windkrag, kragopwekkers, diesel batterye en dies meer) en verskaffers van kragbesparingstoestelle soos fluoorlampe en geyserkomberse almal onder een dak bymekaar te bring.
Verbruikers gaan almal op een plek al die alternatiewe kan ondersoek en tydig besluite kan neem om hul in staat te stel om krag te bespaar en alternatiewe in plek te stel vir kragonderbrekings wat nog vir die volgende vier tot ses jaar deel van ons lewens gaan uitmaak.
Oor die algemeen gaan kragverbruikers aansienlik duurder moet betaal vir krag want Eskom se beplande tariefverhoging van 14,2% gaan binnekort intree en van 1 Julie sal die verbruiker meer betaal.
Die nuwe elektrisiteitsheffing van 2c per kWh en die Drakenstein Munisipaliteit se jaarlikse tariefverhoging van minstens inflasie plus 5% (gebaseer op onlangse begrotings) kan beteken dat elektrisiteit die Drakensteinse verbruiker vanjaar minstens 20% tot 25% meer sal kos.
Dié skielike toename in kragpryse gaan die sakesektor ernstige skade laat ly tesame met die toepassing van beurtkrag.
Noodvergaderings het reeds plaasgevind met die Drakenstein Munisipaliteit om vir hulle te oorreed om die kragkrisis eerste op hul agenda te plaas.
Verskeie industrieë se produksieprosesse is van so ’n aard dat die onderbreking van krag miljoene rande se skade veroorsaak aan masjinerie, voorraad wat moet afgeskryf word en verlies aan tyd en produksie, het Van der Wath gesê.