Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Pat dokter Hospitaalstraat

Pat dokter Hospitaalstraat
 
2008-02-28


Malané Bosman

HY kan enige plek in Wellington woon, maar Pat Cyster (68) het gekies om in Hospitaalstraat sy huis te bou.

Pat, soos almal hom ken, is ’n bekende op die dorp, nie net in sportkringe, die stadsraad en die boubedryf nie, maar ook jarelange leierfiguur in die onstuimige taxibedryf.

Hy het grootgeword in die vooraanstaande Pinestraat en sy vriende vra steeds hoekom hy dan nou in die deurmekaar Hospitaalstaat wil woon.

“Ek stem saam met mense wat sê Hospitaalstraat is siek, maar in ’n plek soos Berg-en-Dal kan ryk mense met hul motors winkel toe ry.

“Hier het ek ’n mobiele winkel, waarheen die straat se mense kan stap om kos te koop. Hier voorsien ek in ’n behoefte, al kry jy ook stampe en stote.”

Pat was 25 jaar lank voorsitter van die Westerlies Rugbyklub en ook bestuurder van die Boland Rugby-Voetbalunie. Hy was kassier van Wellington Unie Rugby asook kassier van Pirates krieketklub.

Hy het self in sy jong jare graag kreef en snoek gevang, rugby, tennis en krieket gespeel en vandag is hy nog net so betrokke, meen hy, al is dit nou op die televisieskerm.

Pat was voorsitter van die Wellington Huurmotorvereniging en voorsitter van die Wellington Munisipale Taxiraad asook voorsitter van die Wynland streek Taxi Liaison Committee.

As hof-assessor het Pat die siek en die seer van sy gemeenskap behoorlik leer ken.

“Hier in Hospitaalstraat, en elders, is dit in baie gevalle die ouers wat nie ’n voorbeeld vir hul kinders stel nie,” sê hy ná die soveelste arrestasie vir dwelmhandel uit huise in sy straat.

“Van al die dinge in die wêreld beskou ek die staat se groot geldmaker, alkohol, as die gevaarlikste dwelm.

“Die staat is ook skuldig met die perke op lyfstraf, in ouerhuise en in skole. Kinders het nie meer respek vir hul ouers nie, en ek hou die staat verantwoordelik vir hierdie houding van die kinders.”

Vandag is Pat afgetree. Hy en sy vrou, Esther, woon steeds in Hospitaalstraat. Hul kinders en agt kleinkinders het nie ver van die ouerhuis getrek nie.

Wayne en Thelma is nog in Wellington werksaam, Robert in die Paarl en Hilton en Charlotte in Kaapstad.

Maar oor die jare het Pat ook die wêreld gesien. En dis wanneer hy begin praat oor daardie jare, dat die woorde vloei en die oë blink.

Pat was maar 16 toe hy as skrynwerker in die Paarl begin werk het. Toe Kaapstad toe waar hy in die dokke skepe help bou het. Daarna in Zambië waar hy ’n ambassade help bou het wat deur president Kaunda geopen is.

“Ek was toe 30, en het met my vrou en drie kinders tussen die krokodille en die terroriste gewoon.

“Ons het avontuurlike reise gehad, in Zimbabwe waar die olifante soos koeie langs die pad gewei het.

“Deur die jare het my vrou geluk gebring. Nooit het ons eens ’n pap band gehad of in moeilikheid beland nie, al het krokodille agter die pont aan geswem waarop ons motor was, en al moes ons een nag in ’n terroristekamp slaap.”

Pat was in 1975 in Lusaka werksaam toe die kinders moes terugkom vir skoling in Suid-Afrika.

Terug was hy weer volstoom in skrynwerkery en toe as voorman met die oprigting van die hoenderhokke naby Worcester.

In 1983 het hy Sasol se aanlegte help klaarmaak. En intussen het hy doodskiste by sy huis te Hospitaalstraat 7 gebou.

Die doodskiste het later ’n reuse-bedryf geword, met kontrakte oral oor die land. Pat was selfstandig en het huise gebou van Wellington tot in Plattekoof.

In die 1990’s het die bouer agter die stuur van die taxibedryf geklim. Dis waar hy behoorlik vir homself naam gemaak het en waar hy vandag nog raad gee.

Praat hy oor die onstuimigheid van dié bedryf, onthou hy hoe hy destyds al gewaarsku het: “Moenie die bedryf oorlaai nie, dit sal trip.”

Dit was in 1998, toe hy ondanks doodsdreigemente teen hom, by sy oortuiging gestaan het dat daar toe al genoeg taxi’s tussen Wellington en Shoprite in die Paarl was.

Met oorlading vandag, het sy woorde waar geword.

“Werk was by my altyd ’n uitdaging. Hoe moeiliker, hoe groter die uitdaging, en hoe groter die plesier om die uitdaging op te los.”

Nou is dit tyd vir reis, ’n passie van die bekende egpaar.

Hulle kuier gereeld by vriende, tot in Kanada. Hulle was in Korea terwyl ’n seun daar skoolgehou het en ook sommer vir die 2002 Wêreldbekersokker.

Pat en Esther is juis nou weer op pad Zambië toe vir vakansie. En dan kom hulle weer terug, want in Wellington se siek Hospitaalstraat, weet Pat, kan hy ’n verskil maak.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za