Leerders vier Moedertaaldag
2008-02-28
DRIEHONDERD leerders van die Boland het op 21 Februarie ’n gratis opvoedkundige program ter viering van Internasionale Moedertaaldag by die Afrikaanse Taalmuseum bygewoon. Internasionale Moedertaaldag is in 1999 deur Unesco verklaar en word sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie gevier om taal- en kulturele diversiteit en veeltaligheid te vier. Unesco het 2008 ook verklaar tot Internasionale Jaar van Tale. Die Taalmuseum het ’n spesiale opvoedkundige program vir graad tien- en elfleerders aangebied. Die program het ’n veeltalige toneelaanbieding deur studente van die US dramadepartement en ’n praatjie deur die gasspreker Kabous Meiring, reklamekoördineerder vir kinder- en jeugboeke ingesluit. Vier busse is geborg om die opgewonde leerders van Kylemore Sekondêr van Stellenbosch, Hoërskool Gimnasium van die Paarl en Weltevrede Sekondêr van Wellington na die museum te vervoer. Die leerders van Weltevrede Sekondêr het ook ’n begeleide toer deur die Taalmuseum se uitstallings onderneem. Vir meer inligting oor die Taalmuseum en -monument se opvoedkundige programme, kontak vir Esther van Heerden by 021-872-3441 of stuur e-pos na opvoeding@taalmuseum.co.za.
More
News
|