Buitelug skemerkonsert
2008-02-28
’n SKEMERKONSERT in die buitelug word Sondagaand op Nelson’s Creek wynlandgoed aangebied, waar konsertgangers getrakteer sal word op gewilde musiektreffers, top gehalte wyne en heerlike eetgoed. Die piekniekkonsert, aangebied deur die Kaapse Wynland Distriksmunsipaliteit in samewerking met die US Departement Musiek, Windworx en Frank Pietersen Musieksentrum, begin om 16:00. Tydens die konsert sal die Frank Pietersen Marimba Ensemble, die Universiteit Stellenbosch Simfoniese Blasers onder leiding van Pamela Kierman, en die Windworx Blaasensemble van Kaapstad onder leiding van Sean Kierman, luisteraars vermaak. Hulle lewer ’n keurspel van bekende treffers, insluitend “You Raise Me Up”, “Caravan”, “Suite of Old American Dances“, “Festive Overture” asook bekende filmmusiek soos “Pocahontas”, “The Lion King”, “Pirates of the Caribbean” en “James Bond”. Tydens die konsert sal daar van Nelson’s Creek se bekroonde wyne te koop aangebied word, asook ’n verskeidenheid eetgoed. Die konsert dien as ’n fondsinsameling vir die uitreikprogram van Frank Pietersen Musieksentrum en die musiekgemeenskapsprojek, Jamestown Sounds. Kaartjies is R30 (R10 skoliere) en kan bespreek word by Nelson’s Creek Wynlandgoed 021-869-8453, die Frank Pietersen Musieksentrum 021-872-2123/4 of die US Musiekdepartement by Sibusiso Nkomo 021-808-2358.
More
News
|