Gribble leef voort by die Heemkring
2008-02-28
MAAK enige geskiedkundige boek oor toeka se tyd oop en jy kan byna gewaarborg wees dat jy op ’n Gribble foto sal afkom. Die fotografiese besigheid James Gribble & Son, was vir byna ’n eeu lank ’n bekende gesig in die Paarl. Die Gribble’s het nie net die Drakenstein van destyds op film bewaar vir die nageslag nie, maar ook groot dele van die Boland en Noord-Kaap. James Gribble het in 1859 vanaf Engeland na Kaapstad verhuis, waar hy ’n suksesvolle fotografiese ateljee in Hanoverstraat geopen het. Na sy dood in 1872, het sy seun, ook James, in sy pa se voetspore gevolg. Hy het eers vir ander ateljees in Kaapstad gewerk en toe hy in 1885 in die Paarl beland het om ’n troue af te neem, het hy op die dorp verlief geraak. Hier is die Gribble Ateljee gevestig, wat tot in die 1980’s deur die familie bedryf is. Sy seun Harold het hom opgevolg en daarna het kleindogter Yvonne die leisels oorgeneem. Harold Gribble het sy foto’s en negatiewe aan die plaaslike argief, die Drakenstein Heemkring, nagelaat. Hy het beklemtoon dat sy werke nooit die vallei mag verlaat nie. Die reuse-taak om hierdie ou negatiewe in ’n digitale formaat te omskep, lê nou in die bekwame hande van volkekundige Marlene Goosen en haar broer Deon. Die Goosens is reeds vier jaar doenig met die negatiewe, en elkeen word versigtig skoon gemaak voordat hulle na digitale formaat gekopieer word. Tot dusver het hulle al 12 000 van die versameling van 26 000 oorgeplaas na digitaal. Tussen die Gribble-versameling is ander fotografiese werke van ander geskiedkundige fotograwe soos Decker en George Bell. “As ’n geheel bied die versameling vir ons ’n unieke terugblik op die Drakenstein van die verlede, asook hoe dit tot vandag se moderne dorp ontwikkel het,” vertel Marlene. “Dit beeld ook die sosiale klimaat van die verlede uit, met beelde van mense wat hul wasgoed in die Bergrivier was, die bou van waens is vir gebruik in die Boereoorlog, die vroeë uitgrawing van graniet teen die hange van Paarlberg en die plaaslewe van destyds. “Die versameling is van onskatbare waarde vir die nageslag en ons nooi jong mense uit om betrokke te raak by die Heemkring sodat die bewaring van ons erfenis kan voortleef.” Die publiek kan nou deur boeke vol kontakafdrukke van die Gribble-versameling blaai en hiervan foto’s bestel. Die Heemkring te Hoofstraat 214 is weeksdae tussen 10:00 en 12:00 oop waar die publiek nie slegs die Gribble versameling kan besigtig nie, maar ook in die geskiedenis van die omgewing kan delf en stamboeke nagaan. * The archive in Paarl, the Drakenstien Heemkring, houses the historic Gribble photographic collection, and is a hive of historical information and genealogy.
More
News
|