Musiek borgskap vir gehoorgestremdes
2008-02-28
’n BORGSKAP van Oticon maak dit vanjaar moontlik vir gehoorgestremdes om tydens die US Woordfees in Stellenbosch na die musiekvertoning, Dagboek van ’n Swerwer, te luister. Dié produksie, soos opgevoer deur Jannie du Toit, Anna Davel, Christa Steyn en Douw Steyn, bevat voorheen ongepubliseerde lirieke en digwerk van Koos du Plessis soos saamgevat in die bundel Erfdeel. Bekende Afrikaanse komponiste soos Coenie de Villiers, Lize Beekman en Laurinda Hofmeyr asook lede van die verhooggroep het van die gedigte getoonset. Aanvanklik is daar beplan om slegs een lied in die vertoning in gebaretaal op te voer om dit bietjie meer toeganglik vir gehoorgestremdes te maak, maar met die vriendelike samewerking van die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) en die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdheid (NCPPDSA) is die produksie nou toeganklik vir gehoorgestremde gehoorlede deur middel van ’n lus-sisteem. Dagboek van ’n Swerwer is tydens die US Woordfees op Donderdag 6 Maart om 18:00 by die Japie Krige-saal te sien. Kunstenaars wat daarin belang stel om van die lus-sisteem tydens hul vertonings gebruik te maak, kan vir Fanie du Toit van die NCPPDSA ’n e-pos stuur by fanie.dt@mweb.co.za.
More
News
|