Boland toon veggees
2008-02-28
Jaco van Wyk
OP ’n snikhete Saterdagmiddag moes die Kavaliers letterlik ekstra hard sweet om ’n oorwinning te behaal van 31-22 oor die Valke op Boland-stadion. Aan die een kant is dit ’n ope vraag of die hitte ’n verskoning is vir die tuisspan se swak hantering op kritieke tye. Die Kavaliers moes nooit toelaat dat die Valke in beheer van sake kom nie. Die besoekers het halftyd met 15-10 voorgeloop en net na halftyd ’n drie gedruk om sake vir die Bolanders verder te bemoeilik. Aan die anderkant verdien die span van die Boland ’n klop op die skouer aangesien hulle ’n agterstand van 22- 10 in die gesig gestaar het en sterk teruggeveg het om ’n goeie oorwinning te behaal. Die Kavaliers moes waarskynlik tydens halftyd aan die ontvangkant van ’n paar harde woorde gewees het, maar duidelik het die boodskap nie onmiddellik deurgedring nie. Die Bolanders het met die aanvang van die tweede helfte eers toegelaat dat die besoekers se flank, Warren Perkins, agter die doellyn gaan kuier voordat hulle besluit het dit is tyd om terug te veg. Die Kavaliers het in die tweede helfte meer balbesit geniet en hul terugvegpoging is aan die rol gesit met ’n prag-drie deur die flank, Zolani Mofu. Met ongeveer tien minute se speeltyd oor het Kobus Meintjies ook vir die tuisspan gaan druk om hulle voor te plaas op die telbord, waarna die plaasvervanger-losskakel van die Kavaliers, Elgar Watts, met ’n skepskop na die pale geslaag het om die Valke se doppie finaal te klink.
More
News
|