Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vroue gaan Woordfees toe

Vroue gaan Woordfees toe
 
2008-02-28

Engela Duvenage

“EK wou nog altyd actress geword het,” vertel Wellingtonner Estie van Heerden, oor haar eenvrouvertoning in haar eenbedryf “’n Mens is ’n mens tussen mense”, wat as deel van die Woordfeesproduksie “’n Venster vol son” op Stellenbosch opgevoer word.

Estie se deelname aan die Woordfees spruit uit haar vriendskap met die Wellingtonse dramavrou en regisseur Marianne Kitching. Dié twee se paaie het gekruis toe Marianne in 2001 ’n rondreisende gemeenskapsdrama op die planke help bring het, en Estie die rol van ’n ouma daarin gespeel het.

“’n Mens is ’n mens tussen mense” word by die Woordfees aangebied saam met die eenbedryf “’n Venster vol son”, waarin Marianne die rol van Faff Kirsten speel wat wreed aangeval is toe sy in 2006 haar buurvrou, Lisbé Smuts-Smith, probeer red het terwyl sy aangeval is.

Albei eenbedrywe, wat as ’n gesamentlike produksie “’n Venster vol son” by die Woordfees deur Simonsvlei Internasionaal geborg word, is deur Wellingtonner Winnie Rust geskryf.

“Die sentrale tema van albei hierdie stukke is hoop en lig,” vertel Marianne. “Albei het ’n sterk geestelike boodskap.”

Die afgelope weke het Marianne vir Estie onder haar vlerk geneem. Daar is hard gerepeteer om alles 100% te kry, met regisseur Juanita Swanepoel wat Estie gehelp het om al die fynere nuanses van die rol onder die knie te kry.

Dit alles terwyl Marianne wat self haar aanbieding moet verfyn, in die bed was weens siekte en daarby naby die telefoon gebly het om te hoor oor die koms van haar dogter se baba.

“’n Venster vol Son” is die eerste produksie in meer as 35 jaar se betrokkenheid by dramakunde waarin Marianne, ’n gedugte regisseur, dosent en radiostem, self op die verhoog verskyn. Dit is reeds die afgelope jaar suksesvol by talle geleenthede opgevoer.

“Dit was maar aan die begin vreesaanjaend om weer ’n mens se woorde te probeer onthou,” vertel Marianne oor haar eerste paar optredes.

Ook Estie se senuwees knaag, maar sy fokus op die boodskap wat sy wil uitdra.

Interessant genoeg speel Estie die rol van een van haar jarelange vriendinne, Marie Aggenbach, ’n verpleegster by Silwerkruin Tehuis vir Bejaardes.

Daarby speel die Paarl Post ’n sentrale rol in die stuk, aangesien “Marie” haar lewensverhaal aan ’n joernalis van die Drakenstein se gewildste gemeenskapskoerant vertel.

Die stuk het ’n sentrale Vigsbewustheidsboodskap, aangesien Marie se dogter aan Vigsverwante siektes oorlede is, en sy daardeur betrokke geraak het by bewusmakingsprojekte en opheffingswerk.

Marie en haar man Sammy het nou haar dogter se vyf kinders onder hul sorg, en sien ook na negentien ander kinders om wie se lewens weens die pandemie geraak word.

In die stuk vertel “Marie” hoe sy soos “’n sergeant major, soos daai vrou in Sound of Music”, soggens vir die kinders moet aantrek en regkry vir skool.

“Maar as ek by Silwerkruin kom, los ek wat agter my is, agter. Dan’s ek ‘nurse’ vir die oumense; dan doen ek my werk daar 100%”.

Die boodskap van versorging en Vigsbewusmaking is ook een wat Estie, ’n reservis by die Mbekweni polisiestasie wat veral met gesinsgeweld en verkragtingsake ondersteuning bied, na aan die hart lê.

“Vigs vat so baie aan my; ek sien so baie mense wat weens dit sterf,” vertel hierdie NORSA kleuterskooljuffrou wat gemoeid is met verskillende gemeenskapsprojekte.

Die 52-jarige Estie het van kleins af haar dramatalente in skool- en kerkproduksies ten toon gestel.

Haar ware droom, is egter om vanjaar die laaste vakke van haar matrieksertifikaat te voltooi en ’n regsklerkskap te begin om uiteindelik ’n landdros in die gesinshof te kan wees.

Dit is hopelik ’n droom wat sy eendag sal kan bewaarheid. Soos wat sy as “Marie” in “’n Mens” immers sê: “Wat is ’n mens sonder ’n dream en sonner hoop?”

Estie en Marianne is op Saterdag 8 Maart om 12:30 en Sondag 9 Maart om 11:00 op die planke in die Klein Libertas teater op Stellenbosch.

Kaartjies is by Computicket.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za