Peoples kelder vir Paarl-Oos
2008-02-28
Jaco van Wyk
SATERDAG het GMT Paarl-Oos ’n terugslag beleef terwyl Young Peoples se kanse om die eindstryd van die toernooi te haal ’n hupstoot gekry het toe die spanne kragte gemeet het in die 45 boulbeurte kriekettoernooi op Daljosafat. Paarl-Oos het eerste gekolf en 172 vir 6 aangeteken. Elroy Abrahams (39, 4x4), Waylon September (35, 1x4), Garth Lewis (38, 4x4, 1x6) en Jackie Daniels (26*, 1x4) was die besoekers se beste kolwers. Carlton Daniels was die Tiere se beste bouler met 2/29. Met Dominic Daniels (53*, 6x4 en 1x6) aan die spits het Peoples die wenlopies in die 43ste boulbeurt aangeteken. Hy is goed bygestaan deur Brendan Adams (26, 2x4) en Mark Borchards (39, 3x4 en 1x6). Paarl-Oos se Elroy Abrahams (2/49) en Waylon September (2/24) het hard probeer om Peoples se kolwers van koers af te kry, maar die dag het aan Peoples behoort. Peoples het die wedstryd met vier paaltjies gewen. Paarl-Oos II het Saterdag vir Peoples II die stryd aangesê. Paarl-Oos het eerste gekolf en 180 lopies aangeteken. Mario de Kock (45, 5x4) en Bjorn Hollenbach (64, 4x4) was Paarl-Oos se uitblinkers met die kolf. Die Tiere se beste boulers was Ryan Davids (3/27), Riaan Damonse (3/17), en Brett Mitchell (2/30). Peoples het tydens sy beurt goeie kolfwerk gelewer om 181 lopies vir die verlies van agt paaltjies aan te teken. Hulle het die wedstryd met twee paaltjies gewen. * Saterdag speel Paarl-Oos I en II teen Worcester United I en II op New Orleans en Allendale onderskeidelik. PaarlOos III speel weg teen Maties III. Sondag speel Paarl-Oos in die 20/20 kriekettoernooi teen Worcester United op New Orleans. Saterdag speel Peoples I sy laaste 45-boulbeurt krieketwedstryd teen Wellington op die Pen Basson-velde. * Peoples het Vrydag ’n steakbraai vanaf 17:30 te Bonapartelaan 25, Klein Parys. Kostes beloop R35 per bord
More
News
|