Paarl neem voortou
2008-02-28
PAARL se eerste krieketspan het die naweek sy kanse lewendig gehou om na die volgende ronde van die 45 boulbeurt- kompetisie deur te dring deur met Wellington af te reken op die Parys-velde. Die kompetisie is nou wawyd oop nadat Paarl-Oos teen Young Peoples vasgeval het. Paarl I (124/7) het Wellington I (81/10) met 43 lopies geklop. Ryan Groeneveldt (4/18) en Christo Ritter (2/29) het met akkurate boulwerk die Paarliete kniediep in die moeilikheid gehad met vier kolwers wat hul paaltjies vir slegs 13 lopies verloor het. Carlo Crotz (42, 3x4) en Ultalyn Ernstzen het egter hul span kom red met ’n vennootskap van 54 lopies om die sesde paaltjie. Clint Philander (27*, 3x4) en Rohan Goetham (13*) het die telling na 124/7 geneem in die toegelate 45 boulbeurte. Wellington se kolfbeurt het ook nie te waffers begin nie toe Hilroy Paulse met sy blitsballe drie kolwers pawiljoen toe gestuur het in die eerste drie boulbeurte met slegs 9 lopies op die telbord. Die vierde en vyfde paaltjie het gekantel met onderskeidelik 31 en 45 lopies op die telbord. Die keerpunt in die wedstryd was die toetrede van Paarl se draaibalboulers X Rohan Goetham, Lynal Jansen en Alfredo Adams. Die drietal het die kolwers behoorlik vasgepen en hul gedwing om onder die volgehoue druk hul paaltjies te verloor. Slegs Christo Ritter (24, 2x4) en Christy Schreuder (15, 3x4) het dubbelsyfers vir Wellington behaal. Paarl II se wegwedstryd teen Wellington II is deur die tuisspan prysgegee nadat hulle nie ’n span in die veld kon stoot nie. Sodoende het die Paarliete seker gemaak dat hulle tot die eindstryd deurdring wat op 8 Maart plaasvind. Paarl III se wedstryd teen Spes Bona II op Cloetesville in Stellenbosch, asook Paarl IV se wedstryd teen Stellenbosch en Distrikte op Parys, het ook nie plaasgevind nie aangesien Paarl se teenstanders nie opgedaag het nie. * Saterdag sit Paarl I en II hul aanslag op die 45 boulbeurt-kompetisie voort wanneer hulle teen die spanne van Bergrivier kragte meet op die Weltevrede- en Parys- velde onderskeidelik. Dit is die laaste wedstryde van die kompetisie voor die volgende ronde op 8 Maart afskop. ’n Oorwinning vir Paarl I sal verseker dat hy deurdring na die volgende ronde met of Paarl-Oos of Young Peoples wat die ander posisie sal vul. Paarl III speel ook Saterdag op die Parysvelde teen Oostelikes III van Kraaifontein terwyl Paarl IV na Pniel reis om teen Coronations III kragte te meet. Sondag speel Paarl I en II teen Young Peoples op Daljosafat in die laaste wedstryd in die 20/20 kriekettoernooi voor die semi- finale en finale op 16 Maart plaasvind. Wellington speel Saterdag teen Young Peoples (45-bolbeurte) en Sondag teen Bergrivier (20/20 kriekettoernooi).
More
News
|