HMS toon staal tydens 4M
2008-02-28
OP 21 Februarie het Hoër Meisieskool Paarl geskitter by die jaarlikse 4M atletiekbyeenkoms gehou te Coetzenburg, deur vir die eerste keer in vyf jaar vir La Rochelle die loef af te steek. Tydens hierdie prestige byeenkoms kompeteer vier meisieskole, naamlik HMS, La Rochelle, Bloemhof en Rhenish teen mekaar. Na uitstekende atletiek, kwaai kompetisie en baie sweet, het Bloemhof met die louere weggestap. HMS se atlete het met ’n ongelooflike spangees vir die eerste keer in vyf jaar die tweede plek geneem voor La Rochelle. Rhenish was in die vierde plek. HMS se atlete het geveg tot die laaste item en op ’n hoë noot geëindig deur die meisies o.19 aflos te wen. Die atlete het verwagtinge oortref en die toeskouers op die paviljoen het uitgestaan met ’n fantastiese gees. Tamryn Cupido het die beker vir die beste o.14 atleet ontvang vir haar eerste plekke in die 100m, 200m en verspring. Rekords is verbeter deur Tamryn (o.14, verspring: 5,19m), Aletta Swart (o.15 gewigstoot: 10,8m en o.15 diskus: 30,23m) en die 0.14 aflosspan het vir HMS tydens die byeenkoms rekords gebreek.
More
News
|