Wellington se eie boek geloodss
2008-03-06
WELLINGTON se eerste koffietafelboek, Val du Charron – ’n blik op die vallei van die wamaker, wat geskryf en saamgestel is deur Amanda Kreitzer, gaan ten tyde van die Wellingtonse Oesfees bekend gestel word. Die bekendstelling vind op Saterdag 15 Maart op Schalk Burger se plaas Welbedacht plaas. Gaste kan vanaf 15:30 ligte verversings en wyn geniet in die skaduryke tuin met Wellingtonse musikante Almuir Botha en Dawid de Villiers wat musiek sal verskaf. Volgens Amanda is dié hardebandboek van 400 bladsye ’n skatkis van geskiedenis, foto’s, essays en Wellington se heel grootste geeste. Daar is meer as 100 bladsye se volkleurfoto’s wat die boerdery, mense en veral die natuurskoon van die omgewing uitbeeld. Benewens Amanda se eie kiekwerk is die foto’s van Petrus Bosman, Conrad Wegelin, Gideon Kreitzer, Marina Smit en Rachel Carrigan ook hierby ingesluit. Die verhale van talle plaaslike sakeondernemings en geskiedkundi- ge plase is ook onder meer in die boek opgeneem. “Die boek is ’n klein reis wat die leser terugneem tot op die spoor van die Franse Vryburgers, maar uiteindelik gaan draai by die verhale van mense wat Wamakersvallei vandag bewoon en bewerk,” vertel Amanda. “Behalwe dat dit interessant is om te leer hoe ander mense hier ’n holte vir hulle voet gevind het, is dit lekker om kennis te maak met alles wat ons dorp bied, iets waarmee baie mense seker vir die eerste keer deur middel van die boek kennis sal maak. “Deur hierdie boek behoort daar ’n nuwe uitreik, maar ook inreik, plaas te vind,” vertel Amanda, wat glo dat die dorp se werklike sjarme in sy mense lę. Die bekendstelling is gratis, maar kaartjies moet vooraf bespreek word by Amanda (083-747-2964 of 021-864-3398) of by die plaaslike biblioteek. * Die Węreldbeker wat deur die Springbok-rugbyspan verower is, sal ook op die dag by Welbedacht te sien wees, asook ’n uitstalling deur die bekende fotograaf Tertius Pickard. Na afloop van die geselligheid sal Bok van Blerk die aand oorneem as deel van die Oesfees. Bring jou piekniek en kombers. Die Węreldbeker sal vir die dag daar ten toon gestel word.
More
News
|