Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wapenlisensies skiet teiken mis

Wapenlisensies skiet teiken mis
 
2008-03-06

Lise Beyers

MET die afsnypunt wat al nader kruip vir die nuutste groep wapeneienaars wat heraansoek moet doen om vuurwapenlisensies, is daar steeds derduisende aansoeke wat uitstaande is.

En talle wapeneienaars wag reeds drie jaar vir goedkeuring van hul heraansoeke.

Sedert 2005 is die nuwe wet in werking gestel wat elke wapen-eienaar verplig om heraansoek te doen om hul bestaande lisensies.

Diegene wat tussen 1 Julie en 30 September verjaar, moet voor 31 Maart vanjaar hul aansoeke indien.

Die nuwe stelsel dring daarop aan dat eienaars ’n bevoegdheidsertifikaat moet bekom, asook elle-lange vorms invul vir hul aansoek.

Volgens gerugte in die binnekringe van die Sentrale Vuurwapenregister, is slegs ’n kwart van heraansoeke wat sedert 2005 ontvang is, afgehandel.

Redes wat hiervoor gegee word, strek van die wet wat goedgekeur is sonder nadenking oor die praktiese implimentering daarvan, tot onopgeleide polisiepersoneel wat die aansoeke moet nagaan.

Kenners van vuurwapens, en veral professionele jagters, het hul hande in hul hare met die voetslepery van die owerhede om die lisensies uit te reik.

Maar nog ’n meer kommerwekkende aspek van die nuwe wapenwet, is die feit dat aansoeke vir nuwe vuurwapens byna tot stilstand gekom het.

Dikwels gaan aansoeke verlore of die aansoeker word maande na hul aansoek teruggeroep na die polisiestasie, net om ingelig te word dat daar ’n fout op hul aansoek is.

“Ek weet van gevalle waar professionele jagters wat deskundiges is op die gebied van vuurwapens sukkel om lisensies vir nuwe vuurwapens te kry,” vertel ’n deskundige wat anoniem wil bly.

“Selfs lede van die gerespekteerde jagorganisasie Kaapjag, kan nie hul lisensies kry nie, self nadat die organisasie vooraf samesprekinge met die polisie gevoer het dat daar voorkeur gegee sal word aan toegewyde jagters. Negentig van dié aansoeke het reeds al verlore geraak.”

Nog ’n professionele jagter sê dat die nuwe stelsel teen ’n slakkepas beweeg.

“Hierdie nuwe wet is besig om ’n belangrike sektor van die ekonomie (die jagbedryf) lam te lê.

“Die jaarlikse jagseisoen bring nie slegs geld in vir die grondeienaar by wie daar geskiet word nie, maar vir die ook die plaaslike gemeenskap, asook talle besighede soos taksidermici en gastehuise.

“Dit is nie net plaaslike jagters wat erg deur hierdie wet benadeel word nie, maar ook buitelanders wat groot geld in Suid-Afrika spandeer.

“Hierdie jagters bring vuurwapens saam na dié land om te jag en dit moet by die lughawe geregistreer word.

Alhoewel ons vooraf al die nodige papierwerk voltooi voordat die kliënt die land binnekom, en die vuurwapens moet dan slegs deur die polisie goedgekeur word, duur die proses nou ure.

“Dit is die laaste ding wat ’n moeë besoeker aan die land nodig het nadat hulle vir ’n dag lank van oral in die wêreld hierheen gevlieg het.

“Buitelandse kliënte van my het nou tou opgegooi en verkies om elders in Afrika te jag, waar hulle, en hul dollars, met ope arms verwelkom word.

“Ons tradisie van jag raak nou verlore hierdeur en dit lyk byna asof die nuwe wet die eerbare jagter probeer ontwapen, terwyl derduisende onwettige wapens op die straat is.”

Nog ’n skokfeit van die geweldige negatiewe impak van die omstrede vuurwapenwet, is dat uit 1400 vuurwapenswinkels wat nog ’n paar jaar gelede in besigheid was landwyd, bly daar nou slegs 200 oor.

Met die nuutste stormloop aansoeke word daar verwag dat die wag nog langer gaan word.

* ’n Woordvoerder van die Paarl polisie het gesê dat nadat die lisensie beamptes elke vorm noukeurig nagegaan het is hulle eers na die provisiale kantoor gestuur en daarna na Pretoria.

* The hunting fraternity is up in arms as thousands of firearm owners are still waiting for their new firearm licences.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za