Nuwe landgoed kom
2008-03-06
’n DORPSHUIS-ONTWIKKELING van 91 residensiële eenhede word beoog op die plaas Blois (erf 8426) op die Carolinapad oorkant Klein Parys. Die eiendom van sowat 4,3 hektaar is tans gesoneer vir landbou en is onder wingerd. Dié wynplaas behoort aan Jannie le Roux van Vendôme en gaan omskep word in ’n residensiële sekuriteits-woongebied, wat sowat ’n kilometer vanaf Jan van Riebeeckweg geleë sal wees. Die ontwikkeling sal bestaan uit 21 enkelresidensiële persele, 34 groepshuispersele en 36 dorpshuispersele asook een besigheids- perseel en ’n klubhuis. Daar word beoog om behuising te voorsien aan alle ouderdomsgroepe, maar daar sal ook ’n siekeboeg vir bejaardes wees. Die ontwikkeling sal omhein word deur ’n muur en daar sal slegs een ingang vanaf die Carolinapad wees, met sekuriteitsbeheerde toegang. Die verkoopsprys van die verskillende persele sal wissel tussen R450 000 tot R750 000. Die ontwikkeling sal geleë wees langs dié van Salomonsvlei-Wes. Enige besware teen die hersonering en onderverdeling moet die Munisipaliteit bereik voor 25 Maart. * ’n Aftree-oord van 14 eenslaapkamerwoonstelle en 36 enkelkamereenhede met ’n siekeboeg word beoog te Hospitaalstraat 29, die voormalige perseel van ’n gimnasium. Die gebou op die perseel van 2356m² gaan drie verdiepings hoog wees met ’n hysbak. Daar sal sowat 40 parkeerruimtes wees. Enige besware teen die projek moet die Munisipaliteit bereik voor 25 Maart.
More
News
|