Young Peoples buig die knie
2008-03-06
YOUNG PEOPLES het Saterdag teen Wellington ’n swak kolfvertoning gelewer toe hy met 35 lopies vasgeval het op die Pen Basson-velde. Die tuisspan het eerste gekolf, en danksy goeie bydraes deur Pieter Bergh (86, 7x4 en 3x6) en Christie Schreuder (45, 1x4 en 2x6) het Wellington 199 lopies op die telbord geplaas. Zarrier Alexander (4/36), Edwin Jacobs (2/32) en Lorenzo Jacobs (2/39) het die beste met die bal gevaar. Peoples se kolwers het, met die uitsondering van Edwin Jacobs (47, 6x4), hul paaltjies met swak oordeel weggesmyt en is uitgehaal vir 164. Theo Claasen (3/24) was Wellington se beste bouler. Sondag het Peoples net-net vasgeval teen Paarl op Daljosafat-stadion in sy laaste wedstryd van die 20/20 kriekettoernooi. In ’n ander 20/20 wedstryd wat Sondag plaasgevind het, het Wellington na Bergrivier gereis vir hul ontmoeting. Wellington het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle het 133 lopies aangeteken vir die verlies van 6 paaltjies. Bronwell Williams (33, 2x4), Christo Ritter (28, 2x6) en Christie Schreuder (27, 3x6) was Wellington se uitblinkers met die kolf. Jacob Adams (2/31) het skaflik geboul vir die tuisspan. Met Reagan Pietersen (46*, 5x4) wat uitstekende vorm getoon het, het Bergrivier hard probeer om die besoekers se totaal te jaag. Dit was egter nie Bergrivier se dag nie en Wellington het die wedstryd met 30 lopies gewen. Vir Wellington het Ian Opperman (3/17) goed geboul.
More
News
|