DIE toestand van die Champagnestraat begraafplaas op Wellington wek kommer.
Daar was al vir ons familie gesê daar gaan nuwe heinings opgesit word omdat die toestand van die huidige heinings so swak is.
Jong kinders hang rond en vang net nonsens aan daar. Dit kom voor of dit die tik- en daggarokers se handelplek is. Skoolkinders neem gedurig kortpad deur die begraafplaas. ’n Week gelede het ons R400 se kunsblomme op die graf van my broer gesit. Die Sondag toe ons by die graf kom het, iemand dit sowaar gesteel.
Hoekom is die Parys-begraafplaas en die Fairyland-begraafplaas so goed omhein, maar hierdie een nie?
Ek voel net jy betaal baie vir daardie grond wat gekoop word en ten minste verwag enige mens dat daar iets omtrent die toestand gedoen word.
Ek is seker daarvan as die begraafplaas beter toesig en heinings kry, sal sulke voorvalle nie gebeur nie.
Ja, ek weet die begraafplaas is vol en daar is ’n nuwe deel waar mense begrawe word, maar dit beteken nie dat die Munisipaliteit moet alles so oop los nie. Die grond kan toegespan word. Ek wil nie eens weet watter vandalisme aan die ander kant plaasvind waar die nuwe deel is nie.
As mense kan leer om respek te kan kry vir ander mense se gevoel sal ek bly wees - vir mense wie se geliefdes daar begrawe is, maak die skending van die grafte seer.
W Brits