Paarl-Oos draf Worcester kaf
2008-03-06
Jaco van Wyk
SATERDAG het Paarl-Oos Krieketklub sy verwoestende vorm hervat deur lag-lag met Worcester af te reken op New Orleans. Deur die wedstryd te wen het Paarl-Oos ook deurgedring na die volgende ronde van die 45 boulbeurte kriekettoernooi. Worcester het eerste gekolf, en ondanks ’n goeie vertoning deur Ronald Baxter (39, 6x4), is die besoekers vir slegs 61 lopies uitgehaal. Morné de Vries het altesaam 6 paaltjies laat spat. Die tuisspan het vinnig klaargespeel met hul teenstanders en die wenlopies is in 16,4 boulbeurte aangeteken. Bjorn Hollenbach (38*, 3x4 en 1x6) was die beste kolwer. Sondag het Paar-Oos weer teen Worcester te staan gekom - dié keer in die 20/20 kriekettoernooi. Worcester het eerste gekolf en 112/9 aangeteken. S Solomons (29, 1x4) het skaflik met die kolf vertoon.Paarl-Oos se Waylon September (3/22) en Zynodien Fredericks (2/9) het goed geboul. Met Tiaan Cloete (66*, 11x4) aan die spits, het Paarl-Oos die wenlopies in die 15de boulbeurt behaal. Paarl-Oos III het die naweek met 123 lopies vasgeval teen Maties III. * Saterdag speel Paarl-Oos teen Oostelikes op New Orleans. Sondag pak Paarl-Oos vir Paarl op die Parys-velde.
More
News
|