Paarl dring deur
2008-03-06
PAARL se eerste krieketspan het die naweek seker gemaak dat hy eerste eindig in Afdeling 2 van die 45-boul- beurtkompetisie deur met Bergrivier af te reken. Paarl-Oos het saam met Paarl deurgedring nadat Young Peoples teen Wellington vasgeval het. Paarl het Bergrivier met 73 lopies geklop. Paarl se kolwers het gesukkel om aan die gang te kom teen die boulwerk van Fabian Arendse (4/16) en Kurt Carolissen (3/24). Paarl kon slegs 140 lopies aanteken. Alfredo Adams (27, 2x4 en 2x6), Carlo Crotz (23, 3x4) en Kurt Martin (22, 3x4) is die enigste kolwers wat meer as 20 lopies kon aanteken. Ondanks ’n lae telling het Paarl se boulers geweier om die wedstryd prys te gee. Hilroy Paulse (3/24) het met sy blitsballe die tuisspan beperk tot 20/4 in slegs 10 boulbeurte. Hy is goed bygestaan deur Clint Philander (2/8) en Rohan Goetham (3/4). Reagen Pietersen (31, 4x4) is die enigste kolwer van Bergrivier wat dubbelsyfers behaal het. Sondag het Paarl vir Peoples geklop op Daljosafat in ’n 20/20 krieketwedstryd. Paarl het sodoende ’n plek in die semi-finaal bespreek wat op Sondag 16 Maart gaan plaasvind. Paarl het eerste gekolf en 101/5 aangeteken, met Carlo Crotz (34*, 1x4) wat die beste met die kolf vertoon het. Gercian Gabriels (2/15) was die tuisspan se beste bouler. Vir die Tiere was Lorenzo Jacobs (39, 2x4 en 1x6) se poging pure verniet teen die akkurate boulwerk van Rohan Goetham (2/6), Alfredo Adams (2/21) en Lynal Jansen (2/18). Peoples kon slegs 95 lopies aanteken. Paarl II se wedstryd op Saterdag teen Bergrivier II is deur laasgenoemde prysgegee nadat hulle nie ’n span in die veld kon stoot nie. Sodoende het die Paarliete seker gemaak dat hulle tot die eindstryd op 8 Maart deurdring. Paarl II het Sondag vir Young Peoples II met 10 lopies geklop op Daljosafat in ’n 20/20 wedstryd. Paarl het eerste gekolf en 134/7 lopies aangeteken met Courtley Pharaoh (41, 7x4 en 1x6) wat die beste gekolf het. L Julies (3/20) was die tuisspan se beste bouler. I Gray (25, 3x4 en 1x6) en M Carolissen (21, 3x4) se pogings was nie genoeg om ’n oorwinning vir Peoples te verseker nie. David Gabriels (3/25) het die grootste bydrae gelewer om Peoples tot 124/8 te beperk. Paarl III het vir Easterns III op die Parysvel- de met 3 paaltjies geklop. * Saterdag speel Paarl I in ’n wegwedstryd teen Brackenfell I en Paarl II speel teen Brackenfell II in die finaal van die 45 boulbeurtkompetisie van die Premier Reserwe Liga. Paarl III speel teen Maties III op Coetzenburg in die finaal van die Country Reserwe Liga. Sondag speel Paarl I teen Paarl-Oos I op die Parys-velde. * Sondag sal daar middagete (’n halwe hoender en slaai) beskikbaar wees teen R30 per bord tydens Paarl se wedstryd.
More
News
|