Rivierwal word rommelhoop
2008-03-06
Lise Beyers
DIE oewers van die Bergrivier is besig om te verval in ’n vullishoop. Nie net is die oewers al ’n geruime tyd lank berug vir bosslapers wat die gebied vervuil nie, maar nou word dit ook as ’n stortingsterrein gebruik. Die nuutste voorval van besoedeling hier was toe sowat 15 rekenaarskerms langs die rivier stukkend gegooi is. ’n Plaaslike besigheid het erken dat hulle die skerms in hul vullisdromme geplaas het vir storting, maar hulle is oënskynlik deur bosslapers uitgehaal en na die oewer geneem, waar klein stukkies metaal wat in die skerms is, uitgekap en daarna as skroot verkoop is. Grant Momplé, wat op die skerms afgekom het, sê dat die oewers keer op keer bemors word en die besoedeling beland dik- wels in die rivier. “Hier lê ook orals die gemors van bosslapers, en dit hoop daagliks op. “Die riool beland dan dikwels in die rivier, wat kommerwekkende besoedeling veroorsaak.” Dit is ook nie ongekend nie, dat mense swartsakke vol vullis hier kom plaas, in plaas van dit na die stortingsterrein te neem. Die Bergrivier is geen vreemdeling aan besoedeling nie. Sowat agt jaar gelede het honderde swartbaars en blouwang-kurpers in die Bergrivier naby die Markstraatbrug gevrek, weens ’n tekort aan suurstof. Die skuldige was die KWV nadat hulle 147 kiloliter gefortifiseerde wyn in die rivier laat beland het. Die voorval het plaasgevind toe hulle besig was om die alkohol oor te pomp en ’n foutiewe klep dit laat lek het. Voorverlede Desember was daar nog visvrektes weens ’n chemiese storting in die rivier, maar die oorsaak hiervan bly ’n raaisel. En verlede jaar het ’n verstopte riool-kas veroorsaak dat menslike riool in die rivier ingeloop het. Riool van Noorder-Paarl kom hier bymekaar en word na die rioolwerke naby Mbekweni gepomp. Die Munisipaliteit kon nie verduidelik hoekom ’n sloot vanaf die kas na die rivier gegrawe is om die vloei van die riool te vergemaklik nie. Verlede jaar is daar berig dat daar bevind is dat die besoedelingsvlakke in die Bergrivier tussen 5 en 24 keer meer is as die toelaatbare vlak vir voedselproduksie vir die Europese Gemeenskap. Daar is bevind dat die enigste oplossing hiervoor is om die oewers van die rivier skoon te hou, beter sanitêre fasiliteite te verskaf vir die talle informele woongebiede langs die rivier en om meer beheer uit te oefen op die uitvloei van munisipale-, nywerheids- en landbou-afvalwater. Maar steeds is die meerderheid van die Bergrivier se oewers in die Drakensteingebied oorlaai met rommel. * The banks of the Berg River are being used as rubbish dumps, often by homeless people who raid refuse bins.for metal objects they can sell.
More
News
|