Gardens bobaas
2008-03-06
Jaco van Wyk
HARDLOOP-RUGBY uit die boonste rakke. Dit is hoe Young Gardens Rugbyklub se sewestoernooi wat Saterdag op Gardens Park gespeel is, opgesom kan word. Altesaam agt plaaslike klubs het aan die toernooi deelgeneem, met die aanbieders van die toernooi wat hard moes veg om Albions in die finaal met 19-17 te klop. Die ander spanne wat deelgeneem het aan die toernooi was Allandale, Young Standards, Windmeul, Laer Paarl, Riverstones en Vineyards. Met die Springbok-rugbyafrigter, Peter de Villiers, wat ook onder die toeskouers getel het, was die kompetisie taai met geen maklike wedstryde nie. Die finaal was ook ’n naelbytstryd soos min en volgens Godfrey Gertze, afrigter van Gardens, het albei spanne vir opwindende hardlooprugby gesorg. “Dit was egter Gardens se fiksheid en vlugvoetigheid wat aan die einde die skaal in hul guns geswaai het,” meen Gertze. Gardens het regdeur die toernooi goed vertoon, maar sy teenstanders het geweier om oorwinnings op ’n skinkbord te oorhandig. Gardens moes hard veg om Lower Paarl met 12-7 te klop, waarna hulle ’n redelike gemaklike oorwinning van 24-7 oor River- stones behaal het. Gardens se sterre tydens die toernooi was Clinton Cupido en Aswin Abrahams. Die toekenning van speler van die toernooi het egter aan Cupido gegaan. In nog ’n wedstryd wat enige kant toe kon swaai, het Allandale vir Lower Paarl met 29- 24 in ekstra-tyd geklop om die plaat-finaal te wen.
More
News
|