Groot pret by Oesfees
2008-03-13
PRET, pret, pret! Dit is waarna daar uitgesien kan word in Wellington volgende naweek en vyf lesers kan elk twee gratis toegangskaartjies wen. Wellington skud tans sy vere reg vir die tweede Oesfees eerskomende Saterdag en Sondag. Nie net gaan die klem lê op dié vallei se uitmuntende wyne nie, maar ook op die uitstekende kookkuns in die gebied. Besoekers aan die Oesfees sal die geleentheid gebied word om aan talle buitemuurse aktiwiteite deel te neem wat vir hulle sal wys watter besonderse mooi natuurskoon in en om Wellington lê. Die pret skop Saterdagoggend om 08:30 af wanneer verteenwoordigers van die wynkelders wat aan die fees deelneem hul trekkers en waens sal uitdos om deel te neem aan die oesfeesparade. Elf wynkelders sal elkeen ’n besonderse program aktiwiteite oor die twee dae aanbied, wat sal wissel van rustige pieknieks en wynproe, tot druiwe trap, gholf, visvang en vierwiel-motorfietsritte, vir die meer waaghalsige siele. * Sondag bied Diemersfontein die unieke geleentheid aan die publiek om hul lyf wynmaker te hou. Wynliefhebbers sal hul eie wyn kan versny en botteleer met Diemersfontein se beperkte Oesfees etiket daarop. Terwyl die wynmaker doenig is, kan die res van die familie speletjies geniet en ook ’n kans staan om dan ’n prys los te speel. ’n Verskeidenheid braaigeregte sal beskikbaar wees om van te kies en te keur saam met die wyn van jou keuse, of selfs jou eie wyn. * By Linton Park kan die avontuurlustige besoeker deelneem aan ’n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite. Gholfliefhebbers kan Saterdagoggend kyk of hulle die teiken in die wingerd kan tref, en indien so, kan hulle met ’n magnum bottel wyn wegstap. Vissermanne kan gerus hul vlieg-visvangtoerusting saambring om forel te probeer vang, en hierna kan almal ’n kreefbraai geniet saam met ’n bottel Linton Park Sauvignon Blanc of Chardonnay. * Die historiese wynkelder, Bosman Family Vineyards, sal vir feesgangers ’n smul piekniek aanbied op dié skilderagtig Lelienfontein Landgoed. * In die hart van die Bovlei, kan feesgangers die skilderagtige Nabygelegen Privaat Kelder besoek en ’n heerlike piekniek geniet, terwyl daar na ’n orkes geluister word. Die pragtige omgewing kan werklik waardeer word met voetslaan langs die Krommerivier aan die hange van die Groenberg. * By Welbedacht, die tuiste van Schalk Burger & Sons, sal gewilde sanger Bok van Blerk, een van die musiekkunstenaars wees wat Saterdag by die Welbedacht Wingerd Rock-fees sal optree. Sy optreede begin om 18:00. Hier sal die William Webb Ellis Trofee op skou wees. * Doolhof bied ’n potjiekoskompetisie aan, asook musiek, met onder andere DNA Strings wat sal optree. Daar sal pret wees met druiwe trap en ’n heerlike verskeidenheid kos sal beskikbaar wees. * De Compagnie Wynlandgoed bied ’n sublieme versnit van wyn en woord, met die kaberet, Om die vreugde te beklink! Besoekers hoef slegs hul feespaspoort teen R35 per persoon (kinders onder 18 gratis) by die Wellington Toerismekantoor te koop, om toegang tot die talle plase en hul gratis aktiwiteite te verkry. Vir besprekings en navrae, skakel 021-873-4604 of besoek die webtuiste by www.harvestfestival.co.za.
More
News
|