Kraamsaal ruk en rol in die Paarl
2008-03-13
DIE ongekompliseerde, romantiese ou wat lief is vir rock en roll, Abel Kraamsaal, tree môre om 20:00 op in die Ou Meul-teater. Hy bind hom nie graag tot ’n genre nie, want hy glo jy’s dan ingeperk tot jou kreatiwiteit. Jy sal dit ook goed hoor op sy albums. Hy doen bietjie blues, bietjie country, ballades, lekker warm rock en roll en steek die draak met die lewe deur satiriese songs wat onder ’n paar klippe inloer. Eers was daar “Woorde op ’n wynboks”, toe “Wonder jy ook soms”, toe “Sondeval” en Abel is op die randjie om die nuwe album, “Abel” uit te bring. Abel het sy musiekloopbaan begin toe hy vir Koos Kombuis onder ’n boom sy eerste drie liedjies gespeel het. Koos was so beïndruk dat hy vir Abel gevra het om drie van sy shows te open. Die reaksie was baie goed en Abel moes vinnig met ’n verhoognaam te voorskyn kom. Die res was ’n sneeubal wat net bly rol het. Harde werk, baie shows en feeste later is Abel net Abel. Geen fieterjasies, net die musiek in sy knapsak. Kaartjies is R60. Skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056.
More
News
|