Johann Nel se prys geen klug
2008-03-13
DIT was die tweede keer dat hy stom staan. Die eerste keer was toe hy die rol gekry het waarvoor hy die afgelope naweek vereer is - en waar hy by die toekenningsgeleentheid ’n paar sinne moes sê. Dit was by die Fleur du Cap-teater prysoorhandigings in die Baxter dié naweek. Paarliet Johann Nel is daar vereer as Beste Byspeler vir sy rol as Paul Hansen in die Afrikaanse vertaling van die Deense familie-drama, Festen. Hy is die suurknol oom wat vir komiese verligting heel aand aan ’n lang tafel sit terwyl sy familie om hom baklei en stry - en al meer gekuier raak. Teatergangers (en keurders vir die toekenning) was dit eens. Johann se komiese sy en -tydsberekening het oor die jare so goed ontwikkel, dat sy lyftaal die gehoor kan laat rol van die lag. “Die rolletjie in Festen was verskriklik klein. Ek het nooit gedink ek kon ’n prys daarvoor wen nie,” het Johann hierdie week gesê. “Toe ek die manuskrip sien, was ek stom. Daar was net ’n honderd woorde! Die uitdaging was om ’n volronde karakter te skep met dié min woorde. “Ons was so ’n `happy cast’, wat kreatiwiteit stimuleer.” En dis hoekom die gas wat namens hom die toekenningsgeleentheid bygewoon het, kon sê: “Johann sou vanaand vir die tweede keer in sy lewe stom gewees het ......” Johann (56) het 2008 afgeskop met die roerende Afrikaanse weergawe van Athol Fugard se toneelstuk, Daar woon mense daar, gevolg deur die komiese rol in die klug Derdeparty verlede naweek by die Woordfees. Dit was juis toe Derdeparty op entoesiastiese aanvraag Saterdagaand vir ’n tweede keer dié dag opgevoer is, dat Johann op die verhoog was en die toekenningsgeleentheid nie kon bywoon nie. Johann is eersdaags by die KKNK op Oudtshoorn te sien in Appasionata, die Spel vir ’n Pianis, musiekteater wat jare gelede deur Pieter-Dirk Uys vir sy pianis-suster, Tessa Uys, geskryf is. Johann is nou landsgoed, maar toe hy in 1974 Paarl toe getrek het, was hy druk besig met radio en voorlesings. Vir 23 jaar lank was hierdie stemkunstenaar en teaterman Engels-onderwyser by Gimnasium Hoërskool in die Paarl. Hy is na die publieke sektor gelok deur ’n aanbod as kopieskrywer by ’n advertensiemaatskappy. Hy gaan nie sy dagwerk los nie, al kan hy homself nou nie roer met al die teaterwerk nie. “Ek geniet altwee ewe veel. Daar is ‘n groot stuk eerlikheid in altwee dié wêrelde. Maar ek voel my tog die meeste tuis in die teaterwêreld. “Ek was nou al vir 12 jaar lank sonder ’n enkele dag verlof, maar ek kla nie, dit is net die feite. Daar is so baie ander akteurs wat hul knieë deurskuur vir werk. “Ek is baie gelukkig, maar dan, ’n akteur is net so goed soos sy laaste optrede,” herinner hy aan die leuse van ’n kunstenaar. Vandag is hy die bekroonde akteur van die Paarl, en in Denneburg sal hy bly, want hy `like’ die Paarl, al is hy nou so besig dat hy eintlik net hier slaap. * Paarlite Johann Nel has been honoured with a major theatre award.
More
News
|