Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Die storie van James Barry Munnik

Die storie van James Barry Munnik
 
2008-03-13


IN die Hoofstraat in Suider-Paarl word tans ’n gebou opgeknap en ’n bykomende verdieping bygevoeg. Die gebou is vernoem na dr James Barry Munnik. Ek wonder heveel mense ken die geskiedenis agter die naam van hierdie gebou.

Laat ons voor begin.

In 1796 word daar ’n kind in Londen gebore. Hy maak later aanspraak op ’n Skotse graaf as voorsaat, al is dit nie bewys nie.

As 14-jarige word hy deur die suster van die graaf Buchan vergesel na Edinburg om medies te studeer (volgens Barry, sy oom en tante).

In 1812 kwalifiseer Barry as 17-jarige en begin sy mediese loopbaan by die Guy’s en St Thomas Hospitale in Londen.

In 1815 word hy aangestel as assistent­chirurg en’n jaar later word hy na die Kaap gestuur met ’n voorstellingsbrief van die graaf van Buchan aan Lord Charles Somerset, toe goewerneur.

Somerset het later sy goeie vriend geword en vir Barry as sy persoonlike geneesheer aangestel.

Hy was bekend as die kapokdoktertjie van die Kaap omdat sy baadjies opgestop was met die kapok van die Kaapse Kapokbossie.

So het die Bo-Kaap se slawe en bruin mense van die Kaap hom genoem. Hy was maar klein van gestalte, so vyf voet lank in sy opgeboude skoene.

Hy was egter kwaai en was uiters streng met dokters en aptekers wat ongekwalifiseerde praktyke in die Kaap bedryf het.

Hy het sy posisie as koloniale mediese inspekteur gebruik om van hulle ontslae te raak en het ook die hospitaal-superintendent aangespreek oor die swak behandeling wat die melaatses ontvang het.

Hy het ook die swak toestande in die tronk aangespreek en die fiskaal het later selfs in die hof beland, waar Barry die saak verloor het.

Hy het egter steeds ’n baie gewilde figuur gebly.

Die grootste diens wat Barry aan die Kaap verrig en aan die wêreld gelewer het, was sy strenge toepassing van higiëne met pasiënte se operasies.

Hy het ’n keisersnee-operasie uitgevoer op die vrou van Thomas Frederik Munnik en beide moeder en kind het die operasie oorleef.

In daardie tyd was die baba gewoonlik die oorlewende pasiënt en die vroue het gewoonlik beswyk aan kraamkoors, wat veroorsaak was deur die ongewaste hande van die chirurge.

Barry wou geen betalings van die Munniks aanvaar nie en het gevra dat hul die seuntjie na hom moes noem. So is die baba dan ook James Barry Munnik gedoop.

Toe James Barry Munnik as volwassene gevra is om peetpa vir ’n baba te wees het hy op sy beurt gevra dat die baba na hom genoem word. Die baba is dan ook as James Barry Munnik Hertzog gebore en word toe later die Eerste Minister van Suid-Afrika.

Barry is van die Kaap gestuur na Mauritius, Wes-Indië, St Helena, Corfu en in 1858 as Inspekteur-Generaal na Kanada.

Hier het die kapokdoktertjie se gesondheid ’n knou gekry en is hy terug na Londen.

Ses jaar nadat hy afgetree het, is hy op ouderdom 70 oorlede in Londen in 1865 (bron: Dictionary of SA Biography vol 2).




More News
  • Hotel to convert to retirement centre
  • Nuwe daghospitaal vir Noorder-Paarl
  • Progress in Klapmuts
  • Green office block planned for Paarl Mall
  • Skole speel groot rol in Drakenstein se eiendomsmark
  • Woonstelmark wil-wil wakker word
  • Objections to Waterfront development
  • Farm up for auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za