Wellington vertoon wisselvallig
2008-03-13
DIE afgelope naweek het Wellington krieketklub gemengde welslae beleef deur Saterdag af te reken met Worcester United en Sondag vas te val teen Coronations. Saterdag het Wellington op Worcester die loot verloor en die tuisspan het besluit om eerste te kolf. Goeie boulwerk deur Wellington het die manne van Worcester beperk tot slegs 123 lopies. Roland Baxter was Worcester se beste kolwer met Christo Ritter (2/18), Ian Opperman (2/30), Warren Groeneveld (2/24) en Ryan Groeneveld (2/12) wat goed saamgewerk het om die paaltjies te laat kantel. Met Christo Ritter (50*, 4x4) en Christie Schreuder (51*, 2x4 en 2x6) wat op hulle stukke was, het die besoekers die telling met selfvertroue gejaag en die wenlopies is aangeteken vir die verlies van slegs drie paaltjies. Wellington het die wedstryd met sewe paaltjies gewen. Sondag het Wellington in ’n tuiswedstryd gespeel teen Coronations. Wellington het die loot gewen en besluit om die manne van Pniel in te stuur om eerste te kolf. Coronations het sterk gestaan om 226 lopies aan te teken. Andrew Cyster (86, 7x4 en 3x6) en Jacques van Wyk (29, 4x4) het goed gekolf. Vir Wellington het Ryan Groeneveld (4/55) en Warren Groeneveld (3/28) goeie vorm met die bal vertoon. Wellington kon egter slegs 184/6 lopies aanteken en sodoende het Coronations die wedstryd met 42 lopies gewen. Wellington se Bronwell Williams (58*, 3x4) en Ian Opperman (51*, 4x4) het goed gekolf terwyl P Hendriks (3/26) en P Peterson (2/16) goed geboul het vir Coronations.
More
News
|