Kavaliers trap Pumas
2008-03-13
Jaco van Wyk
SATERDAG het ’n begeesterde Kavalierspan ’n duidelike boodskap aan ander spanne in die Vodacombeker-reeks gestuur toe hulle die Pumas vernietig het op Boland-stadion in Wellington. Agterlangs het die Bolanders uitstekend vertoon in hul 47-7 oorwinning oor hul besoekers, met Alshaun Bock wat uitgeblink het met 2 drieë, en Piet van Zyl en Hein Myburgh wat geskitter het op die verdediging. Van Zyl het self ook ’n drie ingepalm. Dit was egter voorlangs waar die tuisspan toeskouers gaande gehad het met hul verwoestende skrumwerk. Soos een toeskouer dit na die wedstryd opgesom het: “Hoe Janro van Niekerk nou nog nie in die Stormers se beginspan ingesluit is nie, weet nugter alleen.” Van Niekerk het sy direkte teenstander, met min moeite, eenvoudig uit die grond uit geboor, en saam met die vaskopstut, Andries Human, het die twee kragmanne deurgaans gesorg dat hul span op die voorvoet is. Hope krediet moet egter aan die tuisspan se twee slotte gegee word. Coenie Basson, wat in sy 51ste wedstryd uitgedraf het, en Dries van Schalkwyk, het nie net die Kavaliers se voorry met welslae ondersteun in die skrums nie, maar ook in die lynstane waar hulle amper elke bal van die Pumas gesteel het. Verder het die Kavaliers oor die algemeen goeie spel opgedis, met Zolani Mofu, Neil Papier, Lionel Cornelius en John Daniels wat ook elk ’n drie aangeteken het. Alhoewel die Kavaliers al ’n geruime tyd goed lyk op papier, begin hulle nou al hoe beter lyk op die veld ook. Ander spanne kan dus vergeet daarvan om die ruiters van Wellington sonder handskoene te pak. * Verlede naweek het Boland met 29-25 geseëvier in ’n wegwedstryd teen die luiperds.
More
News
|