Kavaliers sit sonder Goosen
2005-06-23
DIE Boland Kavaliers is reg om die waters te toets vir vanjaar se Curriebeker-seisoen. Hulle sal egter hul tone moet natmaak in die gevaarlike Haaitenk in Durban.
Die Kavaliers pak môreaand die Natalse Haaie sonder hul staatmaker-losskakel, Solly Goosen.
Goosen het Dinsdag nog saam met die span probeer oefen maar moes onttrek weens ’n lastige liesbesering.
Hy sal vir die volgende twee weke nie vir sy span beskikbaar wees nie.
Die leemte wat deur Goosen gelaat word, word nou deur heelagter Antonius Verhoeven gevul.
“Tone het al in ander provinsiale wedstryde op losskakel uitgedraf.
“Die hoofredes hoekom ons hom eerder as Patrick Pietersen op losskakel ingespan het, is omdat hy tans die beste kommunikeerder in die agterlyn is.
“Hy is ook baie sterk op die verdediging en ’n goeie verspreider van die bal,” het Denver Pienaar, die Kavaliers se spanbestuurder, Dinsdag gesę.
Pietersen sal vir Verhoeven op die heelagter vervang en dan ook die stelskopwerk teen die Haaie behartig.
“Patrick is ons eerste keuse skopper, maar ons kan ook terugval op Jacques Schutte,” het Pienaar bygevoeg.
Die 26-jarige Schutte het voorheen losskakel vir die Blou Bulle gespeel en was ook heelagter en vleuel by die Poemas en die Haaie.
“Hy is egter net ’n vyfweekkontrak aangebied aangesien hy reeds kontraktueel verbind is om later vanjaar vir ’n klub in Italië te speel. Hy is dus net vir ons beskikbaar tot 23 Julie.”
Die flank Chris Potgieter is ook op die krukkelys weens ’n kuitbesering, maar behoort oor twee weke weer reg te wees.
Die gebreekte enkel wat die haker, Gustav Rademeyer, in die Vodacom-wedstryd teen die Griffons opgedoen het, sal hom die res van die seisoen buite aksie laat.
Conrad Burke verskuif dus weer terug na die hakerposisie vanaf flank.
Om meer diepte op dié posisie te verseker is die haker, Pieter “Bella” Wium van Wellington Rugbyklub, ook vir die duur van die Curriebeker-seisoen ’n kontrak aangebied.
Volgens Pienaar het die Kavaliers se laaste voorseisoense wedstryd teen NTK Rugbyklub in Parow, hul gebrek aan samespel uitgelig en is dit een van die hoofaspekte waaraan afrigter Hawies Fourie dié week aandag gegee het.
Pienaar het bevestig dat hulle ’n enorme stryd voorlangs verwag van die Haaie se ervare pak voorspelers.
Die Kavaliers pak die Natallers môreaand om 19:00 in die Absa Stadion.
Die Boland-span is Patrick Pietersen, Rayno Benjamin, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Jonghikhaya Nokwe, Antonius Verhoeven, Charl Blom, Henley du Plessis, Kobus le Roux, Angelo Brinkhuys, Nicky Smit, David de Villiers, Tommy Dixon, Conrad Burke (k) en Fabian Brandt.
More
News
|