DIE artikel in die Paarl Post oor bedrieërs het my nagmerrie-ondervinding van 2007 voor die gees geroep.
Op Goeie (?) Vrydag is my motor gesteel met tjekboek en al. ’n Maand later het die dief, of die gelukkige koper van my motor, blykbaar die tjekboek ontdek en begin koop. Aanvanklik klein bedrae van R14 000 tot R20 000 en opgewerk tot R84 000.
Hoewel ek van sekere instansies waar hierdie tjeks aangebied is, inligting ingewin het insake sy modus operandi (soms dieselfde as in die berig van 21 Februarie waar ’n tjek uitgeskryf word en ’n gedeelte teruggeëis word), en vir die polisie, bank, assuransiemaatskappy en die Ombudsman dié inligting ingewin het, het niemand iets daaromtrent gedoen nie.
Besighede betrokke het sy identiteitsnommer gegee, sy gesig op kamera en sy handtekening op my tjeks. Selfs sy bankrekening was aan die polisie bekend, maar niks is gedoen nie.
R530 000 het deur my bankrekening gegaan (hoewel dit nie oorbetaal is nie) en nóg 16 tjeks is ‘uitstaande’.
Maar ek reken dis wat mens deesdae noem ‘entrepreneurskap’.