Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hierdie fietstoer was beslis geen voorreg

Hierdie fietstoer was beslis geen voorreg
 
2008-03-13


VERLEDE Donderdag het ons dorp die twyfelagtige voorreg gehad om die Giro del Capo fietstoer te huisves.

Hierdie wedren vind elke jaar in die Paarl plaas as deel van die befaamde Cape Argus Cycle Tour verrigtinge.

Met ’n geleentheid van selfs internasionale prestige sou ’n mens raam dat dit vir die organiseerders van uiterste belang is om te verseker dat alle rëelings seepglad verloop. Veral na die afgelope fiasko rondom die Celine Dion konsert in Somerset-Wes en gegee die feit dat dit nie die eerste keer is wat hierdie wedren Paarl besoek nie.

Groot was die verkeersknope die oggend van die wedren toe Markstraat summier toegemaak is vir die wegspring van die wedren uit die Paarl. Verkeersknope het tot in Jan van Riebeeckweg gestrek.

Personeel was laat vir werk, besighede kon nie hul deure open nie en skoliere moes lank na kloklui by die skool insluip.

Gegee die krag en gemak van media vandag is dit vreemd dat geen van die organiseerders betrokke gedink het daaraan om enigiemand te laat weet van die toemaak van strate nie.

Hier was ’n goue geleentheid om publieke simpatie en steun vir die wedren te wen gewoon geïgnoreer en die eindresultaat is ’n klomp inwoners wat maar te bly sal wees om nooit weer hierdie wedren in die Paarl te sien nie. Tyd vir ’n “PR” bestuurder, kêrels.

Blapse soos hierdie word dan ook gewoonlik toegesmeer onder die vaandel van “dink aan die ekonomiese voordeel vir die gemeenskap” argument.

Graag sou ons wou sien presies wat hierdie ekonomiese voordeel beloop en aan watter dele van die gemeenskap. Kan ’n bedrag daaraan gekoppel word?

En ek sou reken die enigste gemeenskap wat hieruit voordeel put is dié van gastehuise en restaurante. Wat ons moet vra is wat dit ons kos aan ekstra mannekrag vir paaiesluiting, verlore man-ure in die sakesektor en onnodige brandstofverbruik vanweë die swak verkeersreëlings.

Die sektore wat voordeel trek uit hierdie gebeurtenis is nie dieselfde as dié wat betaal hiervoor nie.

Eintlik verwag ons dus in effek dat die finansiële en winkelsektore asook die belastingbetaler moet betaal vir ’n bonus wat beleef word deur gastehuise en restaurante.

Ek was laat vir werk, het onnodig brandstof verbrand terwyl ek moes wag vir ’n beurt om te ry, kon nie my winkel betyds oopkry nie, het klandisie verloor en my belastinggeld was gebruik vir straatsluitings sodat ’n gastehuis iewers anders kon geldmaak? Dit maak mos nie finansiële sin nie.

Wys ons eers ’n studie wat bedrae aantoon van inkomstes versus verliese en dan sal ons dalk ook deel word van hierdie fietstoer.

Dis maklik om te kritiseer, sal mense sê. Wat moes anders gedoen gewees het? Markstraat is ’n toevoer-aar na ten minste agt skole in die onmiddellike omgewing.

Die meeste van hierdie skole het reeds gevestigde kommunikasie-lyne na hul ouerskorps. Dit sou slegs agt fakse/eposse/telefoonoproepe na die skole geneem het om derduisende ouers te verwittig van paaie wat gesluit sou word om te verseker dat hordes motoriste van alternatiewe roetes gebruik kon maak.

Plaaslike besighede in en om Markstraat kon ook op dieselfde manier verwittig gewees het van moontlike probleme.

Werknemers kon dan beplan om vroëer of later in te kom om die verkeersdruk te help verlig.

Ook die Paarl Post kon hier ’n uitstekende inligtings-kanaal gewees het as hulle die vorige week ’n artikel kon dra om motoriste in te lig van paaie wat gesluit sou word. Internasionale Fietswedrenne is tog op stuk van sake werklik nuuswaardig of hoe?

Ons as belastingbetalers se belange behoort in hierdie sake beskerm te word deur die amptenary van die Munisipaliteit, en hulle behoort daarop aan te dring dat organiseerders van sulke geleenthede genoegsame voorbereidings tref om die publiek in te lig.

Maar hier is ons gefaal deur ons eie amptenare. Dit wil lyk asof die verkeersdepartement dink hul betrokkenheid strek slegs sover as om verkeerbeheerbeamptes op die grond te plaas op die dag van die gebeurtenis.

Verseker is die Verkeersdepartement net so verantwoordelik om te verseker die organiseerders tref alle moontlike voorsorgmaatreëls om padgebruikers in te lig van komende, beplande verkeersontwrigting.

Graag sou ons almal wou hande vat om die Paarl te bevorder, maar dan moet ons darem ingelig word oor wat aangaan.

Fietsryer

Die skakelbeampte van die Drakenstein Munisipaliteit, Anthony Sauls, reageer: Verkeersregulering bly ’n primêre funksie van Verkeer, en sou daar verwag word om verkeer tydens ’n byeenkoms te reguleer, word dit dan as sulks gedoen. Die reklame en bemarking het niks met Verkeer te doen nie.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za