Pret by Maties
2005-06-23
DINK jou kinders Fisika kan nie pret wees nie? Oorweeg leerders in jou skool dalk ’n loopbaan in hierdie natuurwetenskaplike rigting, maar wik en weeg hulle tussen navorsing oor laser-, kern- of teoretiese fisika? Of is jy sommer net lus vir ’n bietjie breinoefening in die vakansie?
Die Departement Fisika aan die Universiteit van Stellenbosch bied Woensdag 29 Junie ’n ope dag vir leerkragte, leerders en hul ouers waar hulle die kans kry om speel-speel die breinselle te oefen gedurende die vakansie, en sommer ook heelwat inligting oor die vakgebied in te win.
Hierdie bekendstellingsdag vorm deel van die Internasionale Jaar van Fisika, wat vanjaar wêreldwyd gevier word in samewerking met Unesco en die klem weer laat val op die belang en rol van fisika. Tesame met ’n openbare lesing en begeleide laboratoriumtoere is daar ook items soos ’n eierval-uitdaag, ’n “Ek-lyk-die-meeste-soos-Einstein”-kompetisie en die bou van ’n musiekinstrument op die program.
Vir twee aktiwiteite kan voorbereiding tuis van waarde wees. Vir die Einstein-kompetisie moet deelnemers nie net hulself soos hierdie genie vermom nie, maar ook ’n kort aanbieding oor sy lewe doen.
Deelnemers kan ook reeds vooraf ’n musiekinstrument by die huis bou, en ook oefen om ’n deuntjie daarop te tokkel.
Skole is ook welkom om spanne hiervoor in te skryf.
Dr Kristian Müller-Nedebock sal onder meer ’n algemene lesing aanbied oor die bydrae van Albert Einstein, wat tydens sy sogenaamde “wonderjaar” in 1905 drie baanbreker artikels gepubliseer het oor die foto-elektriese effek, spesiale relatiwiteit en Brownse beweging, wat die gang van fisika vir altyd verander het.
Kenners op die gebied van laserfisika, stralingsfisika en teoretiese fisika sal ook byderhand wees om navorsing wat in hierdie vakrigtings gedoen word, te bespreek, terwyl ’n toer deur die Departement Fisika se laboratoriums ook sal plaasvind.
Die Ope dag van dié departement van die Fakulteit Natuurwetenskappe sal van 09:00 tot 17:00 plaasvind. Kontak dr Gillian Arendse by 808-3371.
More
News
|