Man skok die Paarl kragloos
2008-03-13
Lise Beyers
TOE die Paarl Saterdagaand omstreeks 23:00 in donkerte gedompel is, het almal gedink dit was weereens Eskom se doen en late, of eerder hul gebrek daaraan. Dit was egter te danke aan ’n man van Smartietown wat tans in ’n bedenklike toestand in Tygerberg Hospitaal lê, nadat hy erg geskok is. Volgens ingeligtes het Courtney Williams Saterdagaand aan vriende gesê dat hy gaan selfmoord pleeg. Hy het waarskynlik kort hierna na die Daljosafat substasie gestap en oor die sekuriteitsheining geklim. Hierna het hy oor nog ’n heining geklouter en by die geëlektrifiseerde drade opgeklim. Talle inwoners van Paarl-Oos het gesê dat hulle ’n helder blou flits gesien het voordat die krag afgeskakel het. Wat hierna gebeur het, is egter steeds duister. Williams het wel daarin geslaag om in die rigting van Smartietown terug te stap. Hy het by ’n huis om hulp aangeklop en die inwoners het hom na die Paarl Hospitaal geneem nadat hulle sy beserings gesien het. Hier is vasgestel dat hy derdegraadse brandwonde oor groot dele van sy lyf opgedoen het. Volgens mediese beamptes is die vel van ’n groot deel van sy lyf afgeskroei, en waar daar nog vel was, was daar net blase. Die meeste van sy klere is ook afgebrand. Hulle isdit eens dat dit ’n wonderwerk is dat hy die skok van ongeveer 66 000 Volt oorleef het. Williams is inderhaas na die Tygerberg Hospitaal se brandeenheid oorgeplaas van Paarl Hospitaal. Munisipale werkers het tot laat Sondagoggend gespook om die skade wat deur Williams aangerig is te herstel. ’n Saak van kwaadwillige saakbeskadiging is teen Williams aanhangig gemaak by die polisie. * A man has suffered third degree burns after gaining access to the Dal Josaphat sub-station and climbing up the electric cables.
More
News
|