Ommiberg - ’n reus van ’n fees
2008-03-13
Lise Beyers
UITEINDELIK het die Paarl ’n wynfees om werklikwaar op trots te wees. Dit was die afgelope naweek die algemene gevoel na die verloop van die eerste Ommiberg Wynfees wat die gebied getref het. En selfs die versengende hitte kon feesgangers nie keer om ’n wonderlike tyd in dié skilderagtige deel van die Boland te geniet nie. Wynkelders reg om Paarlberg - Boland Kelder, KWV, Simonsvlei, Fairview, Windmeul Kelder, Ridgeback, Rhebokskloof, Under Oaks, Landskroon en Nelson’s Creek, het hande gevat om ’n bielie van ’n fees aan te bied vir die hele gesin. Die konsep was om die geesdriftige wynentoesias bloot te stel aan die eerste wyn van die seisoen. Besoekers kon wyn proe van sy beginstadium terwyl dit steeds soos druiwesap proe en ’n effense alkoholvlak van 3% het, tot ongefiltreerde wyn, en selfs 2008 rooiwyn wat so pas in houtvate getap is. En diegene wat die hitte in die wingerd wou waag, kon selfs hand bysit met die pluk van druiwe, en daarna skoene uittrek en kaalvoet die druiwe begin trap. Die paaie in en om die Paarl was behoorlik bedrywig met mense wat van een kelder na die ander getoer het - selfs ’n paar geesdriftiges is op fietse opgelet, waar hulle om die berg agter wyn aan trap. Nie net was daar baie vir wynliefhebbers om van te kies en te keur nie, maar ook vir die hele gesin. Die jongspan het op springkastele baljaar, en waar daar ’n lappie water was, soos in die geval by Rhebokskloof kelder, is dié water gebruik om in af te koel. Perde is ook ingespan vir ritte deur die wingerd, asook vierwiel- aangedrewe motorfietse. En die Tweede Wêreldoorlog vliegtuig, Tin Lizzie, het deurgaans gaste oor die wynlande gevlieg. Verskeie van die deelnemende kelders is reeds bekend vir hul puik produkte, maar Ommiberg het vir die kleiner kelder ook die geleentheid gebied om hul name bekend te maak aan die breë publiek. Die voete om die berg het so getrap dat vele kelders se wyne op die dag uitverkoop het. En nie te vergeet van die heerlike eetgoed wat aangebied is nie. Een van die organiseerders van Ommiberg, Sandra Lotz van Paarl Wynbouers, het gesê dat die fees hul verwagtinge oorskry het. “Ons het deurgaans die indruk gekry dat feesgangers die konsep van die fees baie geniet het en hulle het die hele konsep geniet van om van een kelder na die ander te rits. “Nêrens was daar haakplekke nie en volgende jaar gaan nog ’n groter fees wees. “Die Ommiberg-fees het wonders gedoen om vir die Paarl ’n hupstoot te gee op die gebied van wyntoerisme.” En sowaar, met die belangstelling wat getoon is tydens die afgelope naweek se fees, sal volgende jaar se fees ’n ware reus wees. * The first Round the Rock wine festival which was held in and around Paarl last weekend, was a huge success.
More
News
|