Jong sportman verlam
2008-03-19
Lise Beyers
’n BELOWENDE jong sportman is waarskynlik vir die res van sy lewe verlam gelaat, na ’n bromponie-ongeluk in Hoofstraat, Paarl oor die naweek. Glen Ward en ’n vriend, Kyle de Jager, albei 18, het Vrydagaand kort na middernag in die rigting van Courtrai gery, toe Kyle vermoedelik beheer verloor het oor sy bromponie. Die voertuig het ’n paal getref naby die KWV. Ward is in ’n ernstige toestand na die Paarl MediClinic geneem en daar is vasgestel dat hy sy rug op twee plekke gebreek het, asook ernstige interne beserings opgedoen het. De Jager het verskeie beserings op gedoen, maar is in ’n bevredigende toestand. Ward, ’n matrikulant aan Hoër Jongen- skool, is pas opgeneem in die skool se eerste rugbyspan, wat binnekort ’n rugbytoernooi bywoon by St John’s College in Johannesburg. Hy het ook vir Boishaai se eerste krieketspan gespeel. Ward is tans in die Paarl MediClinic se hoësorgeenheid, maar wag op ’n bed by die Groote Schuur spinale eenheid. Hy is van sy bors af verlam. Tans beloop Ward se mediese onkostes R100 000, en daar word verwag dat dié bedrag sal verdriedubbel. Hoër Jongenskool het dus ’n hulpfonds gestig om te help hiermee. Bydraes kan gemaak word in ’n Nedbank spaarrekening: HJS Glen Ward Fonds, rekeningnommer 2389027741, tak-kode 138905. James Genis, onderhoof van Boishaai, het gesê dat die hele skool bankvas agter Ward en sy gesin staan. “Dit is baie jammer dat so ’n tragedie ’n talentvolle sportman moet tref. “Alhoewel sy toestand tans nie baie belowend lyk nie, is daar altyd hoop dat hy ten volle sal herstel.” * A promising young sportsman from Paarl has been left paralysed after a scooter accident.
More
News
|