Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kind sterf op pad na skool

Kind sterf op pad na skool
 
2008-03-19

Lise Beyers

NOG ’n skoolkind is verlede week doodgery toe sy vir ’n skoolbus gewag het.

Die tragedie het Vrydag plaasgevind toe Wilmarie Lewis (8) van Vrygunsplaas op die Paardeberg-pad saam met ander kinders gewag het op die bus om vir hulle na Alfons Primêr te neem.

Volgens een van die ouer kinders wat saam geloop het, Brendan Huyshamen (12), het Wilmarie nog agter hom gestap, en die volgende oomblik het hy ’n geweldige slag gehoor.

Hy het omgedraai en gesien hoe lê sy in die middel van die pad in ’n plas bloed.

Wilmarie het vermoedelik voor ’n aankomende bakkie beland. Sy is weens ernstige hoofbeserings op slag dood.

Haar ma Frieda Lewis het vertel dat sy daardie dag nie gaan werk het nie, want sy het gereed gemaak om met die kinders weg te gaan.

“Ek het elf jaar gelede laas my pa gesien wat op Darling woon, en ek wou dié naweek vir my kinders neem om vir hom te ontmoet.

“Ons het almal baie uitgesien hierna, en veral Wilmarie was baie opgewonde.”

Maar hierdie entoesiasme is vinnig gedemp toe een van die kinders na Lewis se woning op die plaas gehardloop het om vir haar die doodstyding te gee.

Wilmarie se pa, Wilfred Albertus, is die neef van die onderburgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit, Lillian Jantjies.

Sy is Vrydag kort na die voorval na haar neef toe om vir hom en sy gesin by te staan.

’n Hoogs emosionele Jantjies het gesê dat daar dringend gekyk moet word na die veiligheid van skoliere in die landelike gebiede wat staatmaak op publieke vervoer.

“Wilmarie is nie die eerste kind wat hier sterf nie, en hoeveel kinders moet nog sterf voordat daar iets gedoen word?

“Daar is geen veilige staanplekke vir die kinders terwyl hulle op die bus wag nie, en ook nie voldoende toesig vir hulle nie.

“Hierdie is jong kinders en ’n kind bly ’n kind. Hoe kan daar verwag word dat hulle alleen langs hierdie besige paaie moet staan en wag? Dikwels weet die leerlinge nie van die gevare van paaie nie. Hierdie kwessie moet deur leerkragte vasgevat word om vir die kinders bewus te maak van padveiligheid.”

Nieuwedrift Primêre Skool het reeds erg deurgeloop met padsterftes. In hul 25-jarige bestaan het 16 leerders van hulle reeds gesterf op dié skoolpad in Paarl-Noord.

* A chiled died when she was hit by a vehicle while waiting for the school bus.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za