Paarl-Oos lag die lekkerste
2008-03-19
Jaco van Wyk
ALHOEWEL GMT Paarl-Oos Saterdag vasgeval het teen Brackenfell in hul laaste wedstryd van die 45 boulbeurte uitklopkompetisie, het hulle laaste gelag toe hulle Sondag die Boland 20/20 kriekettoernooi op Boland-sta- dion gewen het. Tydens Saterdag se kragmeting het Brackenfell eerste gekolf en ’n skaflike 203/8 aangeteken. C Prinsloo (58, 2x4 en 2x6), A de Lange (40, 2x4 en 1x6) en Willem du Toit (22, 1x4 en 2x6) was Brackenfell se uitblinkers met die kolf. Elroy Abrahams (2/71) en Kurt Julius (3/32) was die Paarliete se beste kolwers. Paarl-Oos het hard probeer om die telling te jaag, maar moes op die ou end tevrede wees met 111/10 na 38 boulbeurte. Vir Paarl-Oos het Jackie Daniels (23, 2x4) en Wilton van Neel (32, 3x4) die beste spel gelewer met die kolf. Brackenfell se W du Toit (3/16), Denys Hobson (4/25) en H Borman (2/23) was hul span se beste kolwers. In die semi-finale van die 20/20 kriekettoernooi wat Sondag op Bolandpark plaasgevind het, het Paarl-Oos in ’n skitterstryd afgereken met Maties terwyl Paarl vir Coronations ore aangesit het. Dit het tot gevolg gehad dat die twee vyande van die Paarl in ’n stryd gewikkel was om as die kampioen gekroon te word. Paarl het eerste gekolf en 113/10 aangeteken. Leeroy Walters (34, 5x4) en B Nicholsen (22, 1x4) het stewige kolfvertonings vir Paarl gelewer. Vir Paarl-Oos het Tiaan Cloete (5/14) weereens skitterend geboul. Met Bruce Mïller (43, 4x4 en 2x6) en Morné de Vries (29, 2x4) op dreef het Paarl-Oos geweier om te gaan lê. Alhoewel Alfredo Adams (4/21) ’n goeie dag met die bal beleef het, het Paarl-Oos op die ou end die knoop deurgehaak deur 116/7 aan te teken en sodoende die wedstryd met 3 paaltjies gewen.
More
News
|