Legendes het skop
2008-03-19
Jaco van Wyk
MET Paarl Rugbyklub se 125ste bestaansjaar wat vanjaar gevier word, het die klub die naweek sy feesvieringe aan die loop gesit deur ’n rugbydag op Gim se velde aan te bied. Met verskeie wedstryde wat die dag plaasgevind het, het die SA Legendes teen ’n Paarl Legendes-span gespeel in die hoofwedstryd van die dag. Alhoewel die Paarlse span ordentlik slae gekry het met 85-12, was die wedstryd in goeie gees gespeel. Toeskouers het byvoorbeeld die geleentheid gekry om oud-Springbok- rugbyspelers, soos Breyton Paulse, Robbie Fleck en Robbie Kempson, in aksie te sien. Dit is duidelik dat sommige van die veterane nog nie hulle flair kwyt is nie. Vir Paarl se klubspanne het dinge egter beter verloop. Die o.20’s van die Paarl het gewys dat die toekoms blink lyk vir die klub deur hul teenstanders met 19-0 kaf te draf. Die 3de en die 2de spanne het ook oorwinnings behaal deur hulle wedstryde met 11-5 en 35-0 te wen. Nadat die eerste span se voorspelers hul teenstanders oorskadu het in die eerste hefte, moes die Paarliete kop bo water hou in die tweede helfte, met Milnerton wat goed teruggeveg het. Paarl was uiteindelik met 17 - 10 baas nadat die tuisspan al hulle punte in die eerste helfte aangeteken het. Die agtsteman, Edwin Conradie, en die losskakel, Len van der Merwe, het Paarl se drieë gedruk. Clive Samuels het altwee drieë verdoel en ook geslaag met ’n strafskop na die pale.
More
News
|