DIE Paarlse poskantoor kan gerus hulle huis in orde kry!
Donderdagmiddag kon ek skaars my eie oë glo toe ek by my posbus kom. Die hele gang was besaai met advertensies.
Menige posbushuurder is sekerlik hiervoor verantwoordelik, maar teen dié tyd moes die poskantoorpersoneel al begin agterkom het dat huurders verkies om pos uit te haal en nie advertensieblaaie nie. Ek verkies om ’n posbus te gebruik sodat daar nie pos kan ophoop by my woning nie, veral oor vakansietye.
Ek was in die begin ook van mening dat dit die gewraakte gemorspos tot die minimum sou beperk. Ongelukkig blyk laasgenoemde nie die geval te wees nie.
As die poskantoor dan met graagte die oplae en eksemplare willens en wetens in ons posbusse plaas, is daar net een manier om vir hulle te wys ons wil dit nie so gedoen hê nie.
Kyk gerus na die huurders se reaksie, soos op die foto te sien.
Mnr die Posmeester, spandeer dus die distrubisiefooie wat julle ontvang en stel arbeiders aan om die posbusgange skoon en netjies te hou - dis ten minste werkskepping.
As adverteerders ook die boodskap ter harte wil neem, sal hulle besef hoekom dié manier van “adverteer” nie die gewenste resultate lewer nie.
Mede-morsjors