Minder (of meer) gepla oor mooi Wellington
2008-03-27
TERWYL die meeste Wellingtonners streef om hul dorp histories te bewaar, is daar verskeie vrot kolle in die middedorp. Nou het die Wellington Verfraaiingskomitee oorlog verklaar teen die eienaar van een van die vervalle geboue, die historiese gebou op die hoek van Bain- en Roosstraat. “Ons soek antwoorde en ondernemings ter regstelling van hierdie onhoudbare situasie van dr Keith Sarembock, die eienaar van die perseel,” het komiteelid Susna du Toit gesê. “Die vervalle bergingsbouval is ’n brand- en gesondheidsgevaar in die historiese Bain- straat. “Die brandweer moet verantwoording doen oor die hoop kurkdroë hout op die perseel. En hoe groot moet die rotpes word voordat dit as ’n gesondheidsgevaar bestempel word? “Dan kan owerheidsinstansies verantwoordelik vir die toepassing van regulasies ook verduidelik hoekom ’n leë erf moet skoon gehou word, maar ’n bouval in ’n estetiese woonbuurt toegelaat word.” Volgens Du Toit het gesprekke met die Sarembocks en die owerhede die afgelope jare geen vrugte afgewerp nie. Op navraag het Dee Sarembock aan die Paarl Post verduidelik dat hulle die gebou op die hoek van Bain- en Roosstraat sou sloop indien hulle kon. “Ons het die planne vir herbouing in woonstelle, maar ek weet dit sal nie goedgekeur word nie. Ons stel nie in ’n nasionale gedenkwaardigheidsplakker belang nie. Ons sloop dit eerder.” Intussen word klagtes steeds ontvang oor die toestand van geboue op die hoek van Pentz- en Hoofstraat. Dié persele, wat met die jare al meer verval, behoort ook aan dr Sarembock en huisves onder meer ’n drankwinkel. “Ons het ook vir die drankwinkel planne,” het Dee Sarembock gesê. “Dis ’n twee-verdieping gebou, en ons weet dié planne sal ook nie goedgekeur word nie.” * Concerned residents of Wellington are demanding answers regarding neglected buildings in the historical town centre.
More
News
|