Rugby uit boonste rakke
2008-03-27
Jaco van Wyk
OOR die Paasnaweek het Hoërskool Gimnasium sy 16de o.16 rugbytoernooi met groot sukses op die skool se sportgronde aangebied. Die toernooi het verlede Donderdag afgeskop met top skole van regoor die land wat deelgeneem het. Vanweë die sterk skole-rugby- spanne wat aan die toernooi deelneem, is dit seker een van die gewildste en aanskoulikste o.16 toernooie wat jaarliks plaasvind. Prestige-skole soos HJS, Boland Landbouskool, Affies, Grey Bloemfontein, Rondebosch en Waterkloof het aan die toernooi deelgeneem. Gim het Donderdag in sy eerste wedstryd van die toernooi met 3-10 vasgeval teen Nelspruit. Saterdag het die tuisspan vir Monument met 20-3 geklop voor hulle Maandag in die finale wedstryd van die dag met Waterkloof afgereken het. Die eindtelling was 14-5. Die toekenning vir die span wat die aanskoulikste rugby deur die duur van die toernooi gespeel het, is toegeken aan Grey Bloemfontein - ’n span wat bekend is vir hulle hardlooprugby. * In ’n ander toernooi, die St Stithians toernooi wat die naweek plaasgevind het in Johannesburg, het Gim se o.19A span al sy wedstryde gewen. Op die eerste dag van die toernooi het Gim met 26-0 koning gekraai teen die Noord-Kaap. Saterdag het die Paarliete met 32-3 gewen teen Pretoria Boys’ High. In Gim se laaste wedstryd het hul die eerste span van St Alban’s College met 52-5 ’n rugbyles geleer. Gim se eerste span het ook verlede week in ’n skolerugbytoernooi wat op Nuweland aangebied is, met 20-5 gewen teen Bishops.
More
News
|