Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bekende kelders loods wynreeks saam

Bekende kelders loods wynreeks saam
 
2005-06-23


DIE produk van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen vyf toonaangewende Wes-Kaapse wynkelders en ‘n groep plaaslike sakelui het op 14 Junie in Paarl gestalte gekry toe ‘n nuwe Suid-Afrikaanse wynhandelsmerk, Matuba, bekend gestel is.

Die loodsing van Matuba volg op die aankondiging verlede jaar dat die wynkelders Boland, Bovlei, Wamakersvallei, Riebeeck en Wellington saam met die sakegroep Strategy Partners die groep Cape Coastal Vintners gestig het met die oog op ‘n nuwe plaaslike en internasionale wynhandelsmerk.

Volgens Johann Pieterse, die Wes-Kaapse sakeman wat by onder meer Pepkor en Teljoy be- trokke was en tans as voorsitter van Cape Coastal Vintners dien, beoog die maatskappy om Matuba as ‘n kwaliteit-wynhandelsmerk te posisioneer.

“Gehalte, voortreflike binnelandse en buitelandse verspreiding en konstantheid van lewering - dít is die kerneienskappe van die Matuba-handelsmerk,” het Pieterse gesê.

“Marknavorsing het getoon dat daar beslis ruimte is vir ‘n Suid-Afrikaanse handelsmerk wat top-gehalte wyn vanuit die Kaapse Kusstreek in ‘n premiegedaante en met nuwe versnitte en wynstyle plaaslik en internasionaal kan bemark.”

Beleggers in Cape Coastal Vintners is Strategy Partners, die vyf genoemde wynkelders en ‘n aantal individuele wynkelderlede. Daar word tans ook met ‘n swartbemagtigingsgroep onderhandel om ‘n aandeel in die besigheid te bekom.

“Die onmiddellike mikpunt is om oor die volgende jaar sterk distribusie-kanale in Suid-Afrika en in die buiteland te vestig,” het Pieterse gesê.

“Die groep het reeds ‘n voltydse bemarkings- en verkoopsverteenwoordiger in die buiteland en transaksies is alreeds in die Skandinawiese lande gesluit.”

Volgens Pieterse word beoog om die Matuba-handelsmerk uiteindelik met ‘n drie-vlak strategie te vestig, naamlik Premium Select, Vineyard Specific en Barrel Selection, wat onderskei sal word deur die styl van die wyne en prysbande.

“Al ons wyn is afkomstig van Boland, Bovlei, Wamakersvallei, Wellington en Riebeeck,” het hy gesê.

“Cape Coastal Vintners het ‘n unieke leweringsooreenkoms met die kelders op éérste opsie van alle wyne wat geproduseer word. Die Matuba-wyne word deur ons keldermeester, Koos Jordaan, geselekteer en versny.

“Ons aandeelhouerkelders pars huidiglik net minder as
70 000 ton druiwe, konserwatief bereken beteken dit die potensiaal van 5 miljoen kartonne gebottelleerde wyn.

“Deur toegang tot so ‘n wye spektrum wyne te hê, kan Matuba ‘n premie-produk van konstant goeie gehalte aan die plaaslik en oorsese koper bied.

“Die uitdagings van die vestiging van ‘n nuwe handelsmerk is aan ons bekend. Maar ons het ons huiswerk gedoen - wat bemarking betref, beplan ons nie om een enkele steen onaangeroer te laat nie.

“Ons weet dat - met die regte strategie en produk - die potensiaal daar is om ‘n wêreldwye handelsmerk vanaf Suid-Afrika te vestig.”
Volgens Jordaan, wat vir die bereiding van die Matuba-wyne verantwoordelik is, word ‘n omvattende wynreeks beoog.

“Tans is daar sauvignon blanc, chardonnay, chenin blanc, shiraz, shiraz-viognier en cabernet sauvignon in die Matuba-reeks,” het hy gesê.

“Hoewel daar ‘n magdom style en kultivars by ons vyf aandeelhouerkelders beskikbaar is, is dit my taak om die verskillende wyne sorgvuldig te selekteer en te versny volgens style wat vir die verbruiker aanvaarbaar is.”

Jordaan, wat al betrokke was by bekende handelsmerke soos Nederburg en La Motte, meen dat die wye spektrum wyne waartoe Matuba beskikking het die handelsmerk se grootste
bate is.

“Ons aandeelhouerkelders sluit van die bes moontlike grondgebiede in vir haas elke bemarkbare wyndruifsoort,” sê hy.

“Die groot voordeel wat Matuba bo ander instellings wat wyn vanuit ‘n verspreide gebied se druiwe maak, is dat ons wyn reeds aan die kelders se individuele kundigheid en style blootgestel is.

"Dit gee vir my ‘n baie meer diverse reeks style en gehaltes om te versny onder die Matuba-etiket.”

Volgens Pieterse behou elk van die vyf aandeelhouerkelders uiteraard hul identiteit en sal hulle voortgaan om hul eie etikette te bemark.

“Met Matuba bied Cape Coastal Vintners egter aan die kelders ‘n bykomende opsie vir hul wyn,” het hy gesê.

“Die groep is bevoorreg om hierdie gerekende kelders as aandeelhouers te hê.”



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za