Du Preez moedig bewaring van Wellington aan
2005-06-23
Engela Duvenage
SUID-AFRIKA is die węreld se grootste opelug-museum, danksy ons land se talryke erfenisterreine en bewaringsgebiede.
Dit is die mening van Hannetjie du Preez, hoofdirekteur van Kultuursake in die Wes-Kaapse provinsiale regering, in haar toespraak oor erfenisbewaring by die Wellington Museum.
Die geleentheid is aangebied deur die Wellington Rapportryers en die Vriende van die Wellington Museum.
Volgens Du Preez is die Wes-Kaap die tuiste van 60% van Suid-Afrika se erfenishulpbronne.
In haar toespraak het Du Preez ook aspekte van die Wet op Erfenishulpbronbewaring, wat in 1999 geproklameer is, uitgelig. Sy beskou dit as een van die grootste en ingewikkeldste nuwe wette van die afgelope paar jaar.
Die wet, die toepassing daarvan en die omskakeling van bestaande ou wette om in te pas by die nuwe regulasies bied aan haar departement heelwat hoofbrekens.
Sy het plaaslike inwoners wat reeds betrokke is by die bewaring van Wellington se geskiedenis geloof, maar die groter gemeenskap uitgedaag om so gou moontlik betrokke te raak by verdere pogings tot erfenishulpbronbewaring en die opteken van erfenisse.
Du Preez sę dis nie net die werk van munisipaliteite nie, maar het die taak ook voor die deur van vennootskappe tussen inwoners, inwonersverenigings, die plaaslike regering en sy konsultante gelę.
Du Preez het die Wellingtonse gemeenskap uitgenooi om so gou moontlik betrokke te raak om spesifieke temas rondom die bewaring van hul erfenis te identifiseer, en werk daarvan te maak om dit te bewaar en te beskerm vir die nageslag.
Sy het voorgestel dat ’n inventaris opgestel word van straatname en hul herkoms, terwyl daar ook verder gefokus kan word op Ouma Granny’s Museum.
Die bou van die Bainskloofpas, wat vervoer vanaf die Kaap tot in die binneland moontlik gemaak het vir perde- en ossewaens, is volgens Du Preez ’n tema met vele fasette in eie reg.
Onder die verdere moontlike temas wat sy geďdentifiseer het wat as spesiale projekte deur belangstellendes aangepak kan word, is onderwys, opvoeding, die Bovlei, Perdeskoen-omgewing, spoorvervoer, plaasname, die krisanteskou en Andrew Murray se nalatenskap.
More
News
|