Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kaapse musiek by Oesfees

Kaapse musiek by Oesfees
 
2008-03-27


SEWE ensembles wat musiek eie aan die Kaapse platteland uitvoer, sal saamspan vir die Oesfees op die Solms Delta-wyn­landgoed in Groot Drakenstein op Saterdag 5 April.

Aan die spits is die Suid-Afrikaanse kunstenaar en skrywer van musiekblyspele, Dawid Kramer.

Hy is deur prof Mark Solms genader om die musiektradisies van die streek na te vors en die plaaslike musiektalent te ontgin – van ghoema deur langarm en vastrap tot by boeremusiek.

Ander gunstelinge wat saam met Kramer by die fees sal optree, is die agt-stuk familieensemble, The Elginairs, asook Hossie Boois en Pieter van der Westhuizen.

Van der Westhuizen het sy eerste note op

’n ramkiekie by Vredendal geleer en tree nou regoor die wêreld op.

’n Interessante byvoeging is die amateur Delta Optel Band, wie se lede almal op die Solms Deltalandgoed werk, en wat ’n ware tuisgeur byvoeg.

Van die vastrap tot die riel speel die Delta Optel Band musiek wat al eeue lank op die plaas gehoor word.

Lede is van alle generasies en sluit die bejaarde kitaarspeler oom Hannes Floris en sy vrou, Hanna, in, asook die 14-jarige sanger Lolla.

“Die stories wat ons sing, vertel die verhale van die lewe op die plaas – hartseer én vrolik,” sê Hannes.

Saam met die Delta Optel Band op die verhoog sal die Papier Langarm Orkes, wat Bolanders reeds baie jare vermaak, wees.

Die vier Papier-broers – Frank, Albert, Neville en Tienie – sit die tradisie voort wat hul pa, Marthinus Papier, meer as 70 jaar gelede begin het.

Die impetus om die Kaapse musiekkultuur op hierdie manier te omarm, is deur Richard Astor, eienaar van die buurplaas Lubeck, geïnisieer.

Astor se oorlede pa, David, was vir baie jare redakteur van die Londense koerant, die Observer.

As jong seun het Astor veral ’n opname van Suid-Afrikaanse musiek geniet wat een van die jong uitgewekenes uit Afrika (wat Nelson Mandela en Oliver Tambo ingesluit het) wat by sy pa besoek afgelê het, hom present gegee het.

“Ek is bly dat my genieting van Suid-Afrikaanse musiek, en veral Kaapse musiek, gehelp het om iets te begin wat waarskynlik baie ander in staat gaan stel om in daardie genieting te deel,” het Astor gesê.

Die gevolg is twee projekte: Eerstens die Oesfees en tweedens is daar die museum, Music Van der Caab, wat nou vorm aanneem op die aangrensende Solms Deltaplaas, Deltameer.

Navorsers werk aan die vestiging van die musiekerfenissentrum deur die oorsprong en die ontwikkeling van Kaapse musiek na te vors.

Volgens Solms is die Oesfees nog ’n manier om die plaaswerkers te help om hul eie geskiedenis te herontdek.

Die fees is van 13:00 tot 21:00 op die Solms Deltalandgoed uit die R45. Kaartjies teen R110 per persoon sluit ’n ete en twee drankies in.

Die gehoor sal meestal plaaswerkers wees. ’n Beperkte aantal kaartjies is deur Computicket beskikbaar vir verkoop aan die algemene publiek.

Vir navrae, skakel 021-874-3937.




More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za